Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-13 Views:  717
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Oupa Gert Se Stories - Ou Liefde Roes Nooit - Deel 2

Oupa Gert se stories - OU Liefde roes nooit - Deel 2

 

Sy skrik toe die dokter liggies aan haar skouer raak.

“Jammer ek is laat,” sê hy verskonend, ”maar jy weet mos hoe dit gaan in ‘n hospitaal.”

“Kom sit,” nooi sy. “Kom sit en vertel my ‘n bietjie alles van jouself en hierdie inrigting.”

“Nee, nee,” skerm Giel. “Dames eerste. Vertel my van al jou wedervaringe. Is jy getroud, kinders... ?” Dan bly hy ewe skielik stil as hy die weemoed op haar gesig lees.

Terwyl hulle tee drink en aan ‘n heerlike kaaskoek smul, doen sy al die praatwerk. Sy vertel van haar huwelik, wat blykbaar baie bevredigend was. Sy praat van haar en haar man se drome en planne. Dan, met seer in haar stem, vertel sy van sy ongeluk, lyding en dood.

“Ek is jammer.” Giel reik oor die tafel en gee haar hand ‘n sagte drukkie.

“Toe,” sê sy met ‘n flou glimlaggie. “Nou is dit jou beurt! Getroud, kinders, verlief, verloof?”

“Nee, nee,” lag Giel. “Nog geheel en al te arm om aan so-iets te dink.”

“Nog nooit eers verlief geraak nie?” terg sy.

“Ja, sulke oppervlakkige liefdetjies, behalwe toe ek op skool was. Daar was ‘n pragtige ou meisietjie. Ek kon nooit my oë van haar afhou nie, maar sy wou niks van my weet nie. Ek dink ons was te arm. Snaaks genoeg, ek dink haar naam was ook Karien, maar ons het haar altyd Rina, of Rientjies, genoem.”

Karien snak na haar asem. Dan ís dit hy! Daardie dae het hulle hom Stokkies genoem. Hy was kraaimaer met gebarste hakskene. Nooit skoene gehad om aan te trek nie.

Sy voel hoe die bloed opstyg na haar gesig. Sy vroetel met haar sakdoekie, en probeer sy oë vermy.

Sy probeer opstaan. “Ek moet gaan,” sê sy. “Ag nee,” soebat Giel. “Oor ‘n halfuur het ek ‘n afspraak met ‘n ou omie. Sit gerus nog ‘n rukkie.”

Ek moet wegkom, dink Karien. Ek moet tot my sinne kom. Moet ek erken of moet ek vlug?

“As jy dan so arm was,” vra sy effens verward, “hoe het dit gekom dat jy so ‘n knap en hoogaangeskrewe arts geword het?”

“Dankie vir die kompliment, Meisie,” lag Giel, “Maar dit was ‘n groot gesukkel. Harde bene gekou. Dankie kom ook aan my kerk toe vir ‘n lening, asook aan ‘n dierbare ou ryk omie. My lenings is sopas afbetaal, maar nou het ek ‘n klein plasie buite die dorp gekoop. Ek beplan om daar ‘n privaat onderneming te begin.”

Dan droog die geselskap sommer eensklaps op. Giel wonder hoekom Karien skielik so ingetoë geraak het, net asof sy diep in gedagtes versonke is.

“Watse onderneming het jy in gedagte?” vra sy sonder enige tekens van opregte belangstelling.

“Dit moet die beste privaat hospitaal in hierdie omgewong wees.” Giel se stem borrel van entoesiasme. “Dit moet so na moontlik aan die paradys wees vir hartlyers en terminaal siekes. Sal jy belangstel?”

“Ek glo dit is iets om te oorweeg,” antwoord sy, maar staan dan op en met ‘n “Sien jou later,” wuif sy hom totsiens.

Ten minste twee mense sukkel daardie nag om te slaap. Giel rol rond op sy ortopedies-ontwerpte matras, maar telkens sien hy die pragtige roesbruin hare en vriendelike oë. Sy gedagtes dwaal en dwaal. Moet hy of moet hy nie? Sy jare stap immers aan. Sy begeerte om hierdie vrou in sy arms te neem, hou die slaap weg tot die vroeë oggendure.

Ook Karien rol rond. Wat staan haar te doen? Sy kan sy aangetrokkenheid aanvoel, maar wat sal sy reaksie wees as hy moet weet wie sy is? En haar gevoelens? Sy weet dat sy ‘n besondere bewondering vir hom het. Sy wil hom naby haar hê. Sy weet nou dat as hy haar sou verstoot, dit ‘n groot leemte in haar lewe sal veroorsaak.

Twee weke gaan stadig verby. Redelik dikwels bevind hulle hul in mekaar se geselskap. Soms in die teater – ander kere in die kafeteria. Vir Giel is sy nie meer Karien, die hoofsuster, nie. Sy is Rientjies van Mooiberg. Wanneer hy so aan haar dink, dreig hy om haar te vermy – dan koester hy ‘n amperse haat teenoor haar. Maar as hy weer in daardie oë kyk, vermurwe sy hart, en voel hy lus om haar in sy arms te neem.

Een middag oor ‘n koppie koffie besluit hy  om meer oor haar uit te vind.

“Waar kom jy oorspronklik vandaan, en wat was jou van, Karien?”

Nou moet sy vinnig dink. Vermoed hy iets? Moet sy maar openhartig met hom gesels en hoop vir die beste?

Maar dan kom haar antwoord vinnig: “Jong, ek is ‘n gebore Transvaler, en my van was Le Roux. Nou weet jy alles. Hoekom vra jy?”

“Soms word ek bang as ek na jou kyk. Ek wil nie graag weer seerkry nie.”

“Kom ek sê jou wat ek graag sal wil doen!” Karien kyk hom stip in die oë. “Kom ons vorm ‘n vennootskap, ek en jy, en ons verwesenlik jou droom. Ons bou daardie spogplek van jou en ek assisteer net vir jou.”

“Dit is ‘n baie aanloklike voorstel, maar, nee dankie. Nie nou al nie,” sê hy ernstig. “Laat ek net eers hierdie kerkmuis-gevoel geheel en al afskud, dan praat ons weer.”

Dit voel vir Karien of sy ineenkrimp. “Onthou,” sê sy, “in my bankrekening lê genoeg geld sodat ons die lewe vir ander mense makliker kan maak. Moenie so trots wees nie. Ek wil dit nie vir jou gee nie – ek wil dit belê waar ek weet dit nuttig en veilig sal wees.”

“Dankie vir jou aanbod en vertroue,” sê hy, “maar ons praat liewer later weer daaroor.”

Die dae sleep traag verby. ‘n Tweestryd woed in Karien. In sy teenwoordigheid raak sy verward. Sy kan sien dat hy hom soms vererg as sy in die teater onhandig en sonder haar vorige vaardigheid werk. Soms kan sy sien dat hy toenadering soek, dan word die angs in haar net erger. Sy weet nou dat sy meer as verlief is op hom. Sy besef dat sy nie langer so sal kan voortgaan nie.

Dié aand tel sy die telefoon op en skakel sy nommer. Haar hart bons in haar keel as sy sy stem hoor.

“Hello,” haar stem bewe. “Hello. Is dit Stokkies, vroeër van Mooiberg?”

“Hello,” antwoord hy verward. “Wie is dit? Vir wie soek jy?”

“Stokkies, dis ek, Rientjie van Mooiberg. Ek moét met jou praat. Kan jy...”

Maar dan hoor sy hoe die foon aan die anderkant neergesit word. Sy sak agteroor op die bed en huil soos toe sy ‘n kind was.

Die volgende oggend loop hulle mekaar in die voorportaal raak. Giel wil by haar verbystap, sonder om te groet, maar sy gryp hom aan die arm.

“Giel, asseblief, ons moet praat. Ons moét!”

“Wil jy nog ‘n keer ‘n gek van my maak? Weet jy wat jy aan my gedoen het?”

Hy wil aanstap, maar sy dwing hom na die besoekers se rusbank in die hoek.

“Giel, asseblief.” Haar stem is skor en smekend. “Giel, vergewe my. Dit was nie ek nie. Dit was ‘n dogter van vyftien jaar. Sê jy vergewe my. Verseker my dat ons weer vriende kan wees, anders gaan ek onmiddellik bedank en wegvlug van hier af.”

“Kan ons dit later vanmiddag bespreek?” Hy maak haar vingers los wat om sy arm klem. Na middagete gaan ek net gou na my plasie toe. Daarna sal ek by jou woonstel ‘n draai maak.”

“Goed Giel, goed! Ek sal my bedanking vir ‘n rukkie terughou. Raak asseblief kalm en vergeet van daardie simpel meisiekind op Mooiberg.”

Diep ingedagte vat Giel later die snelweg. Dit woel in hom. Hy kan nie besluit wat om te doen nie. Vir ‘n tweede keer het hierdie mens sy lewe kom deurmekaar krap. Hier buite in die stilte sal hy die saak met homself kan uitstryk. Hy het die berou in haar oë gesien. Agter die donkerbril wat sy opgehad het, het hy die tekens van baie trane gesien.

Vir hom kom die uitdraaipaadjie vandag te gou. Hy voel lus om sommer net aan te hou ry, totdat daar klaarheid kom.

Wanneer hy in die oopte stilhou, sit hy nog besluiteloos voor hom en uitstaar. Dan hoor hy die dreuning van ‘n ander voertuig. Verbaas kyk hy om. Net skuins agter hom hou Karien stil. Ook sy huiwer om uit te klim. 

Sy bekyk die wêreld om haar. Voor haar lê ‘n gelyk oopte tussen die doringbome. Teen die rant staan die aalwyne met pragtige rooi ritse in die son. Links na onder kronkel die Jukskeirivier.

Asof dit afgespreek is, maak albei gelyktydig hul motordeure oop en klim uit.

Sy gaan staan teen haar motor se voorste modderskerm, terwyl hy stadig naderkom.

“Wat kom maak jy hier?” vra hy.

“Mag ek dieselfde vraag vra?” Sy kyk hom stip aan.

“Dit is hier waar ek myself wil kom vind.” Giel kyk nie na haar nie. “Hier wil ek kom vergeet van armoede en kerkmuise. Hier wil ek rus vir my siel kom kry.”

Karien laat haar kop sak. “Mag ek nie deel word van daardie rus vir jou siel nie? Ek weet ek is die oorsaak van baie van jou wroeginge. Vergewe my dit, Giel ek smeek jou. Vertel my liewers van jou planne en toekomsdrome vir hierdie plek.”

Giel huiwer. Dan asof iets hom besiel, begin hy praat.

“Hier waar ons nou staan, gaan die hoofkliniek wees met ‘n goedtoegeruste teater. Aanvanklik net tien siekekamers, ‘n kombuis en ‘n ontspanningsaal. Daar onder na links die swembad, ‘n tennisbaan en daar ‘n rolbalbaan. Ek wil vir die oues en sieklikes ‘n paradys probeer skep.”

“En waar gaan ons woonhuis staan?” waag Karien dit.

“Ons wat? Wat sê jy?” Giel ken nie sy eie stem nie.

“Ek vra waar gaan ons huis wees, want ek is lief vir jou, en ek gaan met jou trou.”

Giel se mond gaan oop en weer toe. Hy kry geen woord uit nie. Dan praat sy verder.

“Hierso, ou Stokkies, hier gaan ek en jy en ons kinders bou aan die mooiste plek aan die hele Rand. Dit gaan ‘n pragtige plek wees – ons Mooiberg.”

Giel kyk haar ongelowig aan. “Rientjies van Mooiberg,” kry hy eindelik sy stem terug, “as jy ‘n halfuur gelede vir my gesê het dat ek jou vanmiddag gaan gryp en soen en soen, sou ek gesê het jy is van lotjie getik.”

...  And they lived happily ever after!

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer