Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-13 Views:  457
Author:  karelnel
Published in:  Poems/Gedigte
Mediokrasie

Mediokrasie

 

Met die grysheid

van ‘n gemiddelde IK

bestaan jy murmurerend

met ‘n bedrukte glimlag

wat kla

of ‘n sug wat jubelend

taai vloei

uit ‘n vervelige hartklop.

 

Selfs in jou dowwe oog

is daar ‘n halflewende

plastiekglans en in jou

verlepte gehoor die

ewigdurende gesuis

van witgeraas

 

Jou asemteue marsjeer

lusteloos bevrees soos

gekettingde soldate

op pad na ‘n vlak graf

in die rigtinglose dorheid.

 

Jou onvervulde emosies

walg soos vervalsde warm wyn

en kerm onontwikkeld uit

jou dorre gebarste lewenskelk

ongevoed en hunkerend

na vroegdou moedersmelk.

 

Die eentonigheid van jou

glanslose bestaan sê

jy is lewendig dood

tot jy uiteindelik

naamloos wegkwyn

in die vergetelheid

waaruit jy

ongemerk gekom het.

---000---

 

2002-02-17


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer