Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-14 Views:  896
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Kernkrag - Die Ontwikkeling Van Kernreaktore In Die RSA

Die ontwikkeling van Kernreaktore in die RSA

 

Toe die Wet op Atoomenergie in 1948 die destydse Raad op Atoomkrag (RAK) tot stand gebring het, is dit voorsien dat, benewens die ontginning van kernmateriale, die Raad ook sou omsien na die bevordering van kernkrag in die land.  In 1967 is die Wet op Atoomkrag weer gewysig en Dr A J A Roux het Voorsitter van die Raad, en drie jaar later President van die Raad geword.  Hy het op 12 Junie 1958, na 'n uitgebreide oorsese reis, konkrete voorstelle vir 'n kernprogram vir Suid Afrika voorgelê , waaronder "Navorsing en ontwikkeling van 'n Kragreaktorkonsep wat vir Suid Afrika toepaslik is" ingesluit was.  Dit het gelei tot die sogenaamde Pelinduna-projek wat van natuurlike Uraan as brandstof, swaar water as moderator en vloeibare Natrium as koelmiddel gebruik sou maak.  Hierdie konsep is verder ontwikkel en het baie belowend gelyk en selfs die klein eksperimentele opstellings wat gebou was het goed gepresteer.  Die verdere ontwikkeling van hierdie konsep is egter in die laat sestiger- jare laat vaar aangesien daar met 'n groot Uraanverrykingsprojek voorgegaan moes word, en die Raad op Atoomkrag nie die Finansies of Mannekrag gehad het om twee sulke reusagtige pogings te kon deurvoer nie.

Die hart van die Nasionale Kernnavorsingssentrum sou aanvanklik 'n gevorderde hoë vloed reaktor van die Oak-Ridge tipe wees, wat vir materiaaltoetse gebruik kon word.  Hierdie reaktor (SAFARI)  is deur Allis Chalmer in die VSA ontwerp en het op 18 Maart 1965 vir die eerste keer kritiek geword.  Gedurende hierdie tyd is heelwat wetenskaplikes en ingenieurs ook na die buiteland gestuur om nagraadse kwalifikasies in die kernveld te verwerf.

In 1965 het die RAK, op versoek van die Minister van Mynwese, 'n formele ondersoek na die ekonomiese aspekte van Kernkrag in Suid Afrika aangepak.  Aanvanklik is bepaal dat Natuurlike Uraan-swaarwaterreaktore (soortgelyk aan die Kanadese Candu-reaktore) met 'n vermoë  van 350 MWe vir Suid Afrikaanse omstandighede mededingend sou wees.  Die sukses wat met die Suid Afrikaanse verrykingsproses behaal is, en die sukses wat ligte waterreaktore (DWR's en KWR's) in ander dele van die wêreld behaal het, het die skaal egter uiteindelik in hulle guns laat swaai.  Sedert 1969 het EVKOM  (later Escom) begin om 'n leidende rol te speel t.o.v. die oprigting van reaktore, terwyl die RAK na lisensiëringsaspekte sou omsien.

Gedurende Mei 1971 het EVKOM by sewentien potensiële tenderaars navraag gedoen vir aanbiedinge vir 'n sleutelklaar-kernkragsentrale wat teen 1978 in die Wes Kaap in bedryf gestel moes word (Koeberg).  In 1974 het sewe potensiële konsortiumleiers formele navraagdokumente ontvang en vyf van hulle het aanbiedinge gedoen.  Hieruit is 'n kortlys van drie konsortia opgestel, en deur 'n sameloop van omstandighede is die kontrak uiteindelik in Augustus 1976 aan die Franse Konsortium Framatome -Spie Batignolley-Framateg toegeken.  Die geskeduleerde einddatums vir die twee reaktore in die tweelingaanleg sou onderskeidelik 31 Desember 1982 en 31 Desember 1983 wees.  Hierdie twee reaktore is suksesvol in bedryf gestel.  Hoewel hierdie aanlegte op 'n sleutelklaar basis bestel is, is tog 'n aansienlike hoeveelheid DWR-kundigheid in die land ingebring.

Gesien in die lig van EVKOM se aankoop van die Koeberg Kragsentrale het die Raad op Atoomkrag dit nodig geag om 'n sterk reaktortegnologiese basis vir drukwaterreaktore op te bou.  Goedkeuring is in 1980 verkry om 'n klein demonstrasiereaktor te bou waarmee DWR-tegnologie verder by die RAK en die RSA-nywerheid gevestig kon word.  Nadat verskillende spesifieke reaktorkonfigurasies grondig ondersoek is, is 'n begin gemaak met die konsepontwerp van 'n klein DWR wat komponente sou hê  wat uiteindelik in 'n opgeskaalde 350 MWe DWR, aangepas vir maksimale vervaardiging in die RSA-nywerheid, gebruik kon word.  Die samewerking van 'n verskeidenheid van internasionale reaktorspesialiste is gedurende die jare 1983 tot 1985 verkry en 'n groot hoeveelheid gespesialiseerde kundigheid is deur plaaslike ingenieurs en wetenskaplikes opgedoen.  'n Kosteraming, gebasseer op die konsepontwerp van hierdie reaktor, wat 'n volwaardige prototipe van 'n RSA-drukwaterreaktor vir elektrisiteitsopwekking sou wees, is gedoen maar die koste was onaanvaarbaar hoog sodat die projek in Januarie 1986 getermineer is.  Hierna het die reaktortegnologiespan nog verskeie konseptuele studies t.o.v. verskeie drukwaterreaktorkonfigurasies gedoen wat veral vir ESKOM waardevolle insette gelewer het tydens die besluitnemingsproses vir die aanskaffing van 'n volgende kernkragstasie.

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer