Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-26 Views:  663
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Hoe Dink Mens Oor Die Judaisme - Die Rol Van Mistisisme - Deel 3

Hoe dink mens oor die Judaisme – Die rol van Mistisisme - Deel 3

 

Een van die aspekte wat baie mense prikkelend vind omtrent die Judaisme is die mistieke aard daarvan. Baie dinge is simbolies en simbole het betekenisse. Baie hiervan is eeue oud en dra skalkse beloftes van tydelike en ewige geluk wanneer dit nagevolg sou word. Die Judaisme het ‘n onuitputlike bron van mistieke literatuur.

Mistisisme is die navolging van die bereiking van ’n bewuste vereniging met god deur ondervinding, intuisie of insig. Dit is veronderstel om ’n her-integrasie met die godheid te wees en om sodoende deel te word van ’n groter identiteit. In die proses word soms gebruik gemaak van gemoed-veranderende middels (drugs). Hierdie praktyk word nagevolg in baie van die gelowe van die wereld.

Mistici hou vol dat daar ’n dieper vlak van bestaan is onder die alledaagse vlak van bestaan. Dit kan bereik word deur reinigingsprosesse van gebed, meditasie, oordenking, gebruik van sekere middels ens sodat hy kan toetree tot die goddelike sfeer. Dit word deur verskillende terme beskrywe: theosis (christendom), henosis (Nuwe Platonisme), Irfan (Islam), Nirvana (Boeddisme), Moksha (Hindoeisme), Faqr (Soefisme), ens. Dit word getipeer as sielkundige emansipasie, wedergeboorte, eenheidsbewussyn, ’n oorgegewe egolose toestand waar die eksterne wereld met die mistikus se innerlike lewe sinchroniseer. In baie gevalle onttrek die mistici hulle dan van die samelewing om asketies te lewe om vereniging met die skepper  binne hulleself na te strewe.

Daar word beweer dat daar ’n mistieke proses is om die toestand te bereik. Dit behels vyf stadia:  1) Ontwaking waar die persoon ’n begrip kry van die goddelike werklikheid  2)Reiniging waar die persoon bewus word van sy eie onvolmaaktheid en beperkings  3)Verligting waar die persoon ’n visie van die hoër orde kry  4) Die ‘donker nag van die siel’ van  verwarring, hopeloosheid, wil-stagnasie en ’n gevoel van god se onttrekking. Dit is die finale proses van ontlediging van die self  5) Finale vereniging met die een werklikheid: god. Die self is dan finaal vrygemaak vir ’n nuwe doel, en kan dan gebruik word om die ewige in die tydelike te inkarneer. In die teistiese, panteistiese en panenteistiese geloofstrome word hierdie ervarings beskou as individuele gemeenskap met god en dat mens die  uiters subjektiewe  ondervindings soos drome, visies, wonderwerke, openbarings en profesiee in die lig moet sien. Dit word beskrywe as die proefondervindelike kennis van god. (experiential knowledge of god). In die katolisisme word dit beskou as die vervulling met die Heilige Gees wat aan die gelowige wonderwerkende, profetiese en ander bo-natuurlike kwaliteite gee. Sommige beweer dat dit ook in die charismatiese wereld neerslag gevind het.

Meeste mistieke bewegings begin gewoonlik binne ’n godsdienstige verband waar daar ’n bepaalde ordelike hierargie is, bepaalde geloofsbelydenisse, ooreengekome heilige tekste, gereelde publieke byeenkomste, bepaalde rituele en heilige dae is asook sekere etiese en morele wette. Mistici beweeg gewoonlik uit hierdie strome uit, met die oortuiging dat hulle uiteindelik die godsdiens in sy ‘suiwerste vorm’ nastreef.

Ongetwyfeld is elemente van mistisisme ook in die christelike kerk aanwesig. Hoe moet dit beoordeel word?  Is daar fout met ’n mistieke benadering tot die geloof? Is die hoogste roeping van ons geloof nie juis om met God verenig te word nie? Hoe behoort ons as christene te dink oor die Joodse denkwyse wat in vorige artikels vlugtig aangeraak is?

Jesus sê aan Sy dissipels in (Joh 16:12) dat Hy nog baie het om aan hulle te sê, maar dat hulle dit nie kan dra nie, en dat die Heilige Gees sou kom om hulle in alles te leer. Die Heilige Gees het inderdaad gekom, op Pinksterdag en daarna, en het hulle geleer, en een van die uitvloeisels daarvan was die Nuwe Testamentiese geskrifte wat mettertyd die lig gesien het. Hierdie geskrifte, wat deur baie jare se studie en sifting deur die kerk as outentiek aanvaar is, het die Ou Testament in ’n ander lig gestel as wat dit tradisioneel deur die Jode gesien is, in die sin dat die vervulling van baie daarvan gekom het met die Messias, Jesus Christus. Baie van die simboliese dinge van die Ou Testament het toe vir hulle duidelik geword en hulle het dinge verstaan wat die profete deur die eeue oor geskrywe, maar nie verstaan het nie ( 1 Pet 1:10-12 ). Skrifgeleerdes met die nuwe insig kon nou die Skrif lees en daaruit  ou en nuwe nuwe skatte te voorskyn haal ( Matt 13:52 ). Dit was asof daar ’n sluier oor die misterieuse dinge van die Bybel was wat nou verwyder is.(2 Kor 3:14-16) Die ware betekenis van die Geskrifte het bekend geword in die progressiewe openbaring van God aan die wereld toe God op ’n ongelooflike manier (deur Sy Seun)  finaal met die wereld gepraat het. (Heb 1:1)

Baie van die simboliek in die Ou Testament se ware betekenisse het nou sigbaar geraak en is opgeteken in die Nuwe Testament byvoorbeeld: Die offers – Christus se volmaakte offer; Die hoëpriester – Christus ons ewige Hoepriester; Die priesterstand – elke gelowige; Die tempel/ tabernakel – ons liggame/ die kerk; Die priesterlike klere – regverdige dade van die heiliges; Die sabbat – die sabbatsrus; Die pasga – die nagmaal; Die heilige salfolie – die Heilige Gees; Die ou verbond – die nuwe verbond; Die besnydenis – die besnydenis van die hart (wedergeboorte); Die volk van God (Israel) – die kerk; Die wet op kliptafels – die wet op die harte van die gelowiges; Die ou hart – die nuwe hart; Die ou wyn – die nuwe wyn; Die berg Sinai – die berg Sion ; Kinders van Abraham deur die besnydenis – kinders van Abraham deur die geloof, ens;. Die Boek Hebreers argumenteer dat die gelowiges nou by die vervulling van die dinge gekom het en dat hulle nie kan terugkeer na die ou verbond nie (Heb 12:22). In Christus, so glo ons, is die misteries van die Ou verbond ge-openbaar, en dit is nie nodig om met allerhande pogings te soek na steeds verborge waarhede nie, of om in verwondering te bly staan by die Ou Testamentiese simbole nie. Die woord ‘mysterion’, wat in Bybelse Grieks vir misterie of geheimenis gebruik word beteken inderdaad ’n geheimenis wat ge-openbaar is.

Nou wat is die goeie nuus wat aan die mensdom kom openbaar is deur Jesus Christus? Dit behels so baie dinge – kom ons noem ’n paar:

- Ek en jy raak versoen met God omdat Jesus se offer vir ons gebring is. Jesus is die volmaakte, allesomvattende Messias van God.

- Ons sondes word vergewe en dit verwyder ALLE skuld van ons af omdat Jesus se offer vir ons betaal het. Hy het daarmee al ons ‘baggasie’ weggeneem en het daarmee die basis gelê vir ons totale gesondheid: gees, siel en liggaam. Hy het ook daarmee die basis gelê waarmee ons alle ander mense kan vergewe vir onregte aan ons gedoen, wat ’n belangrike deel van ons totale gesondheid is.

- Ons word as regverdiges verklaar deur God omdat Jesus deur Sy plaasvervangende dood ons geregverdig het. Daardeur het Hy permanent ons vrees vir die oordeel van God weggeneem, ten spyte daarvan dat ons onvolmaakte mense bly. Ons word regverdig verklaar as gevolg van Jesus. Punt.

- Omdat ons vrygespreek is van baie, word daardeur ’n platform gelê dat ons baie andere ook kan vryspreek. Ons hoef ons nie en behoort ons nie self  aan te stel as ander se regters of toesighouers nie – God is in staat om dit self te doen.

- Ons word kinders van God en Sy erfgename omdat Hy ons daarvoor gekies het en ons daarvoor gered het

- Ons hoef GEEN werke te doen om dit wat hierbo staan te bereik nie, ons bereik dit wel deur GELOOF en geloof behaag God. (Heb 11:6)

- Ons hoef geen prestasie te behaal om dit te bereik nie, God gee dit omdat Hy genadig is, en omdat die prys wat Hyself daarvoor betaal het oorvoorsien het daarvoor (Kan die hele wereld se sondes dra – Joh1:29 )

- Ons het nou deel geword van ’n ander koninkryk – die koninkryk van die Lig (Kol 1:13)

- Die Bose het nou geen vatkans op ons nie (1 Joh 5:18)

- Ons het vir die eerste keer werklik vry geword – vry om God te dien

- God het nou ’n nuwe wet op ons hart geskrywe (Eseg 36:26) en ons hoef nie nou meer (net) uiterlike voorskrifte te volg nie – innerlik sal Hy ons sê wat ons moet doen. (Met respek – ’n ingeboude geestelike GPS)

- God het die Heilige Gees gegee as ons Trooster om by ons te wees en ons te lei in die waarheid, en om ons krag te gee vir God se werk (Hand 1:8)

- God het ons ingebou in ’n fantastiese, internasionale, tydlose volk  wat op elke plek op aarde te vinde is – die kerk, en het ons en andere toegerus om fantasties by mekaar in te pas en aan te sluit en instaat is om mekaar op te bou en te versterk. Daarvoor het Hy gawes en bedieninge deur die Heilige Gees in die gelowiges ge-deponeer wat ontsluit, ontwikkel en erken moet word. Wanneer dit gebeur word die persoonlikheid van Christus sigbaar (Gal 4:19) aan die wereld en word God verheerlik (Rom 15:7)

- God gee ook aan elke gelowige die ingeboude vermoë om deur middel van eenvoudige getuienis, waar hy/sy ookal gaan, mense te beinvloed om die goeie nuus van Jesus Christus te aanvaar. God  sal dan self sulke mense nader trek (deur onder andere omstandighede). Dis God wat die saad laat groei (1 Kor 3:7).

- God gee aan elke kind van Hom ’n altyddurende nuwe hoop vir die toekoms omdat hy weet dat God in alle dinge in beheer is (Rom 8:28). Daar is vir die toegewyde gelowige geen rede om swartgallig te wees oor die toekoms nie.

Hierdie waarhede word nie in die Judaisme verkondig nie. Dit vorm ook nie die fokus waar die mistieke belewenis van pseudo-Joodse praktyke nagestreef word nie.

 

Is daar dan plek vir mistieke ervarings in die christelike kerk? Natuurlik is daar plek daarvoor, want die Bybel praat tog daaroor. Dit is egter van die uiterste belang dat die oorsprong van sulke mistieke belewenisse bo verdenking moet wees, anders sal die kerk mislei word. Een ding is seker, en dit is dat die nastrewe van ’n mistieke benadering tot geloofsbelewing gebaseer op elemente van Joodse denke baie gevaarlik  kan wees en warskynlik nie die toets van die Nuwe Testamentiese  openbaring van Christus sal kan deurstaan  nie.

---000---

 

Opgestel deur: KPJ Nel

2014-12-26

 

Met erkenning aan Wikipedia.

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer