Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-02-26 Views:  516
Author:  karelnel
Published in:  Politics/Polities
Protes

Protes

Toe ek so omtrent vyf-en-twintig jaar gelede Duitsland besoek het op soek na kennis oor kernreaktortegnologie het een van die Duitse kollega’s een aand oor ‘n ete die volgende wysheid kwytgeraak:

“If you are 20 and not red (kommunisties gesind) or green (omgewings gesind) then you have no heart. But if you are 30 and are not black (konserwatief), you have no brain!”

Meeste van ons sal dit begryp, want ons was self eens jonk en moontlik idealiisties en voortvarend. Party van ons het seker selfs ‘n bydrae gelewer om die status quo (van daardie tyd) effens te verander deur ons invloed. Hoewel onder elke groepering van mense daar ‘n spektrum van sieninge van konserwatief tot liberaal is, kry mens tog bepaalde , meer  ewewigtige insigte namate mens volwasse word. Nie waar nie?

Sommige van die ontstellende gebeurtenisse op ons kampusse kan seker in dié lig gesien word, hoewel dit ooglopend is dat daar uitgeslape en intilligente politieke entiteite daar agter sit wat openbare instansies “wil onregeerbaar maak” vir hulle eie agenda. Soos iemand dit in die media gestel het dis deja vu – op ‘n dag was dit die katastrofiese ‘Freedom before education’ waarvoor die kinders moes betaal, en nou is dit ‘Transformation before education’, waarvoor ons studente moet betaal.

Oor die noodsaaklikheid van sinvolle Transformasie sal die meeste van ons seker saamstem, maar om dit te probeer bereik deur geweld en is tog in beginsel selfvernietigend? Hoe dom is dit nie om op ‘n kampus ‘n wetenskapsentrum af te brand nie? Of om treine te vernietig omdat hulle laat is nie? Sulke brutale irrasionaliteit slaan my dronk.

Oor die regverdigheid van sekere eise sal mens seker ook kan saamstem, maar die patroon is tog voor-die-hand-liggend: Die eise verander deurgaans, die eise word pasgemaak vir elke situasie, die eise word al hoe meer, as aan die eise voldoen word kom daar net groter eise. Toegee word meestal net gesien as ‘oorwinning’ en is ‘n aansporing om  meer eise te loods. Hoe lank sal dit neem vir die ‘owerhede’ om te besef dat daar êrens ‘n realistiese streep in die sand getrek moet word?

Enigiemand wat enigsins ‘n studie gemaak het van revolusionêre oorlogvoering sal duidelik hierdie patrone herken.

Op my omswerwinge in Europa het ek ‘n ander (onsmaaklike) grappie gehoor. Dit word vertel van die twee Jode wat ‘n massa saamtrek van Hitler bygewoon het. Hy het, op sy kenmerkende manier, die skare opgesweep. Uiteindelik skreeu hy “Hinaus mit der Juden!” (Verskoon my Duitse grammatika – bietjie verroes). Hulle was so beindruk met sy toespraak dat hulle sommer saamskree : “Hinaus mit uns!”

Dit lyk my dis ongelukkig waar baie Afrikaners vandag is. Die Afrikaner, sy geskiedenis, sy taal en alles wat hy gedoen het word onregmatig gedemoniseer en baie van ons sing saam met die koor “Hinaus mit uns”. Selfs om te probeer help met opbou word met agterdog bejeën, en dit lyk of die enigste aksies wat applous van die skare ontlok is selfverraad.

Miskien het die klein groepies wat by die kampusse gaan bid het vir ons gewys wat die ware oplossing is? Die Een wat hulle inspireer se naam is tog die ‘Vredevors’ wat die ‘middelmuur van skeiding’ afgebreek het?

Hoekom hoor ons nie daardie boodskap nie?

---000---

KPJ Nel

2016-02-26

 

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer