Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-26 Views:  1061
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Hoe Dink Mens Oor Die Judaisme - Deel 2

Hoe dink mens oor die Judaisme ? – Deel 2

‘n Vorige artikel het oorsigtelik gekyk na wat die Judaisme behels aan die hand van ‘n geloofsbelydenis en godsdienstige gebruike. Hierdie opsomming, grootliks ontleen aan Wikipedia, ondersoek die kwessie van die gesaghebbende  Joodse Geskrifte

Anders as vir die Protestantse christendom, vir wie die Bybel alleen (Sola Scriptura) die gesaghebbende bron is, het die Joodse geloof talle gesaghebbende boeke. Natuurlik is die Ou Testament (Tanakh), waarvan die Wet (Pentateug, Torah) miskien die belangrikste is, die fondasie. Dit word egter maar net beskou as die geskrewe deel van God se woord. Die siening word gehandhaaf dat daar ook ’n gesproke tradisie was – waarhede vanaf God wat deur die eeue heen mondelings oorgedra is van geslag tot geslag (deur rabbi’s) en dat die mondelingse tradisies eers later opgeteken is. Hulle is oor die eeue heen bestudeer, gedebatteer en ’n geweldige getal kommentare is daarop geskrywe deur geleerde rabbi’s. Van hierdie werke word ook as gesaghebbend beskou, soos byv die Talmoed, Kabbalah en talle andere. Baie van hierdie werke het ’n baie diep mistieke inslag.

Om dit te probeer verduidelik wil ek graag begin met ’n aanhaling uit die Zohar – een van die vernaamste boeke in die Kabbalah:

“ Woe unto man, says Simon ben Yochai, who asserts that this Torah intends to relate only commonplace things and secular narratives; for if it was so, then in the present times likewise a Torah might be written with more attractive narratives. In truth, however, the matter is thus: The upper world and lower are established upon one and the same principle; In the lower world is Israel, in the upper world are the angels. When the angels wish to descend into the lower world, they have to don earthly garments. If this is to be true of angels, how much more so of the Torah, for whose sake, indeed, the world and the angels were alike created and exist. The world could simply not have endured to look upon it. Now the narratives of the Torah are its garments. He who thinks these garments are the Torah itself deserves to perish and have no share in the world to come. Woe unto the fools who look no further when they see an elegant robe! More valuable than the garment is the body which carries it, and more valuable even than that is the soul that animates the body. Fools see only the garment of the Torah, the more intelligent see the body, the wise see the soul, its proper being; and in the Messianic time the ‘upper soul’ of the Torah will stand revealed.”

Die begrip is baie duidelik – daar is dieper waarhede verskuil in die Torah wat vir die oningeligtes verborge is. Om die waarheid te sê daar word  vier vlakke van interpretasie van die Torah onderskei:

1.            Eenvoudige of letterlike betekenis (Peshat)

2.            Allegoriese of geimpliseerde betekenis (Remez)

3.            Rabbynse of  metaforiese betekenis (Derash)

4.            Geheime of versluierde betekenis (Sod)

Die eerste letters van hierdie woorde word saamgevoeg tot die woord PaRDeS (wat beteken paradys) en dit word gebruik om die viervoudige betekenis van die Torah aan te dui. Hierdie soeke na die mistieke betekenis is onderliggend aan die Joodse godsdienstige denke. (Die fundamentalistiese christendom daarenteen poog om die Skrif so letterlik en direk as moontlik te probeer verstaan. (“Why can’t God just mean what He says?”)

Die beeld word gebruik van ’n reisiger wat in ’n pikdonker stormnag teen ’n gevaarlike bergpas afry en hy kan niks sien nie. Dan skielik slaan daar ’n enorme blits wat die hele omgewing duidelik verlig sodat hy alles kan sien rondom hom, tot in die verte. So, word beweer , is die Kabbalah. Dit bring die helder openbaring, en as mens met die kennis daarvan na die Torah kyk, dan sien jy wat dit eintlik ten diepste wil sê. Dit is volgens sommige Joodse geleerdes so dat die ware betekenis van die Joodse geloof eers  reg verstaan kan word by bestudering van hierdie ander geskrifte.

Volgens oorleweringe kom die oorgelewerde waarheid (soos onder andere vervat in die Kabbalah) van Adam af – God of die engele het dit aan hom meegedeel. Ander beweer weer dat dit van Abraham se tyd af kom. Dit word beweer dat die rabbi’s dit later moes verberg toe vyande hulle land oorval het. Dit is volgens geleerdes egter eerder meer realisties om te  glo dat dit ontstaan het in die tyd van die Babiloniese ballingskap. Baie daarvan is in huidige vorm eers gedokumenteer in die 12de en 13de eeue, veral in Spanje. Daar is letterlik eeue se literatuur beskikbaar oor en rondom die Kabbalah en dit sou uiters arrogant wees om voor te gee dat ek gesaghebbend daaroor kan praat – terwyl ek  nog niks daarvan eers gelees het nie. Dit mag interessant wees om te weet  dat die Jode vir baie eeue (deur die Talmoed) verbied is om die Kabbalah te bestudeer, en verder dat ’n man dit eers mag bestudeer nadat hy 40 jaar oud geword het  – dit is as gevaarlike kennis beskou. Die studie van die Kabbalah het egter in sekere  westerse kringe en onder sekere Joodse groepe gepopulariseerd geraak.

Die godsbegrip wat in die Kabbalah verkondig word is kompleks. Dit het twee aspekte:

1.            Die wese van God self wat onkenbaar is (Ein Sof). Hy is oneindig en onverstaanbaar en Hy is Een.

2.            Die openbarings van God waardeur Hy Homself aan ons bekend gemaak het en wat tot ’n mate deur ons begryp kan word. Hierdie openbarings of ‘emanations’ is tien in getal en staan bekend as die ‘Sefirot’ (Enkelvoud ‘Sefirah’). Dit wil nie voorkom of hulle beskou word as aparte persone nie, hoewel daar gevalle opgeteken is deur die eeue waar die Sefirot deur Jode aanbid is. God het deur die Sefirot die hele skepping tot stand gebring, en daagliks skep Hy nog in ons lewens deur die Sefirot, natuurlik met ons samewerking. Alle  dinge is deur hierdie Sefirot aan God verbind volgens sommige van die rabbi’s. Die vorm van godsbegrip word soms ‘monistiese panenteisme’ genoem – ’n term wat deesdae selfs deur vooraanstaande SA teoloe gebruik word.

Dit behoort vir die leser duidelik  te wees dat Joodse denke hier wegbeweeg van monoteisme wat een van die kardinale openbarings van die Ou Testament is. In die Sefirot word daar veelvoudige nature aan  god toegedig. Latere werke in die Kaballah, die Zohar, beklemtoon ’n dualisme in die godheid meer, en alle bose dinge word toegeskrywe aan ’n bose mag, bekend as Sitra Achra, wat van god uitgaan. Dit is ‘n ‘negatiewe spieelbeeld’ van god se heilige deel en die twee is met mekaar in ’n oorlog gewikkel. Hierdie bose is verweef in die Sefirot, maar die Sitra Achra het klaarblyklik geen mag oor Ein Sof nie.

Een van die metodes waarmee die Skrif ‘ontsluit’ word is die begrip van ‘gematria’ wat ’n getal-woord mistieke praktyk is. Elke letter het ’n syferwaarde en so kan elke woord se syferwaarde bepaal word, en so word deel van die woord se geheime betekenisse ontsluit. Daar is blykbaar sowat 70 verskillende maniere waarop dit gedoen kan word, en een manier is om ’n woord te vervang met ’n ander woord van dieselfde syferwaarde en so kan alternatiewe  skrifbetekenisse verkry word. Islamse mistici, die Sufi’s maak van soortgelyke tegnieke gebruik.

Die absolute fondasielose mistieke praktyke en oopheid van interpretasie behoort vir die ernstige christen die rooi ligte te laat flikker. As God ooit in sulke geheimsinnige en uiters dubbelsinnige maniere gepraat het, wie kan ooit gered word? Dit staan reglynig teenoor die eenvoudige waarheid wat aan ons in die Nuwe Testament ge-openbaar word. Dit heg ’n totaal ander waarde aan die Ou Testament as wat aan ons ge-openbaar is deur die vervulling daarvan in Christus.

Die Zohar is  die belangrikste reeks geskrifte in die Kabbalah en daar is oneindige  diskoerse oor wanneer dit geskrywe is. Dit lyk moontlik dat ’n Joodse skrywer, Moses de Leon dit in die 13de eeu in Spanje geskrywe het, maar dat hy die doelbewus aan ’n tweede eeuse  rabbi,  Shimon bar Yochai toegedig het, wat dit deur openbaring van die profeet Elia sou ontvang het. Die teks het binne 50 jaar wyd binne die Jodendom versprei en dit het populer geword aangesien dit sake hanteer soos die verheerliking van die mens, die leerstuk van onsterflikheid en etiese beginsels. Die mens word beskrywe as die heerser oor die skepping en dat die onsterflikheid van die skepping slegs afhang van die mens se moraliteit. Die mens se volmaakte moraliteit beinvloed die ideale wereld van die Sefirot en die boom van die lewe is van die mens afhanklik.

Die Zohar bevat, volgens sommige, die begrip dat die godheid beide manlike en vroulike elemente bevat. Hierdie polariteite moet verenig word om harmonie in die kosmos te handhaaf en hierdie verenigingsproses staan bekend as ‘theoeroticism’ (lasterlik!) Die eenheid van god word gesien as die paring  van die manlike en vroulike dele, die herstel van die vroulike deel in die manlike deel om terug te keer soos wat Eva oorspronklik uit Adam geneem is.

Een van die grondliggende idees in die Zohar is dat die  univers ’n stel van  afbeeldings is en dat die menslike gemoed (mind) in elkeen van die vlakke die goddelike teken kan  ontdek en so kan opklim na die oorsprong van alle oorspronge. Hierdie vordering kan egter net geleidelik gemaak word, en ook nadat die gemoed  deur verskeie stadia van kennis gegaan het naamlik 1) Die kennis van eksterne dinge (die visie deur ’n spieel wat indirekte lig weerkaats) 2) Die kennis van die essensie van dinge  (die visie deur ’n spieel wat direkte lig weerkaats) 3) Die kennis wat kom deur intuitiewe voorstelling en 4) Die kennis wat deur liefde kom. Hierna kom die ekstatiese toestand wat ter sprake is ten tye van heilige visies. Om in hierdie toestand te kom moet die gemoed  roerloos wees, met die kop tussen die kniee, terwyl die siel verlore raak in oordenking en die mompeling van gebede en liedere. Daar is blykbaar sewe ekstatiese toestande, elk ge-assosieer met ’n kleur, en elkeen verteenwoordig die intree in ’n hemelse saal totdat die sewende vlak, ’n kleurlose een bereik is, wanneer die siel se toestand een van bewusteloosheid word.

In die skrifuitleg wat die Zohar tov die Bybel toepas word ’n interessante metafoor gebruik. Die Torah word as ’n soort van minnaar beskrywe en die leser word in ’n speelse dialoog met die teks ingeroep. Daar word ge-argumenteer dat die geheim (van die teks) word ontdek onder die klere van die teks, en nie deur die klere daarvan weg te doen nie. Die Zohar is deur die eeue deur baie rabbi’s gesensureer omdat dit baie bygelowigheid  bevorder het en ’n horde mistieke dromers tot gevolg gehad het, wat die wereld ge-infekteer het met alle soorte van invloede. So byvoorbeeld is die Joodse sabbat begin beskou as die verpersoonliking van God in die tydelike lewe en elke seremonie op die dag is beskou asof dit die bo-natuurlike wereld beinvloed.

Die Zohar het ’n besliste invloed uitge-oefen op christelike mistici wat daarin seker ‘bewyse’, gevind het vir sommige christelike leerstukke soos die Drie-eenheid, die leerstuk oor die val van die mens ens.  Die opregte christen behoort te besef dat die Zohar baie slegte nuus is, want dit is ’n  ontsaglike groot afwyking van die goeie nuus van Christus, die algenoegsame Messias.

Wanneer die Kabbalah en Zohar getoets word aan die  vyf sola’s van die Hervorming (Sola Scriptura, Sola Gratia, Sola Fide, Solus Christos en Soli Deo Gloria) sal dit duidelik bly dat mens hier met ontsaglike groot afwykings van die algemene Christelike leer te make het.

---000---

KPJ Nel

2014-12-18


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer