Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-03-06 Views:  1241
Author:  JFK
Published in:  From the heart/Uit die hart
Steve Hofmeyr Skryf AFRIKAANS
"Ek het eintlik nee gesê toe klein Tarien Trollip my uitnooi om op AG Visser se verjaarsdag by AG Visser Laerskool te gaan praat. Maar toe sy weer skryf en mooi vra, moes ek plan maak. Hier is my toespraak:

Taal is ʼn manier om die wêreld te ken. En ons lewenstaak is om die wêreld en sy dinge te leer ken. Daar sal nooit genoeg tale wees nie en nie een taal beskryf alles dieselfde nie. En dis reg so. Daarom kry ek lekker as vertalers sê iets het verlore gegaan in die vertaling. Ek kry lekker as vertalers sukkel, want dit is hoe dit moet wees. Maar as een taal afstomp of weggevat word, verbied word en verbrand word verloor ons ʼn manier om die wêreld te ken. Dit is ‘n onpeilbare verlies.
En as daardie taal wat brand en verlore gaan myne is, verklaar jy nie net oorlog teen my taal nie, jy verklaar oorlog teen my manier van die wêreld ken. Hoe ek kyk, hoe ek proe, hoe ek huil, hoe ek lag, hoe ek liefhet, hoe ek sing, hoe ek dans en selfs hoe ek stil raak. Want as ek stil raak, raak ek stil in Afrikaans.
Ander vertel my ek worry te veel, dat Afrikaans nooit sal uitsterf solank as ons dit net praat nie. Maar om die taal net te praat is nie genoeg nie. Want dan neem jy die taal terug na die straat, kombuis en landerye waar Afrikaans eerste gepraat is. Dis reg so, maar onthou, Afrikaans is soveel meer as net dit. Dit is ʼn jong taal maar een van die eerste Afrikatale wat in die vorige eeu so vinnig so ‘n enorme biblioteek kon bou. Nie enige ou biblioteek nie, maar ‘n honderd-miljoen-ton-olieskip vol brandstof met die potensiaal om honderd-miljoen ligte aan te skakel op ‘n honderd-miljoen verskillende plekke. Weet jy watter plekke?
In die spreekkamer van ene Dr AG Visser toe hy sê: Kom na my tuin waar die donkerrooi rose/Duist're geheime vertrou aan die nag...
Die lig op die stoep van Jan FE Cilliers aan die einde van ‘n oorlog, toe hy skryf: dis ʼn graf in die gras/dis ʼn vallende traan/dis al...
Die lig in die leë kinderkamertjie toe Totius se dogtertjie een aand sterf van weerlig en hy skryf: Sy was so teer soos ʼn vlindertjie/sy’t lugtig omheen geswerf/’n asempie wind kon haar vlerkies breek/en kyk watter dood moes sy sterf...
Die lig in die kamers van Eugene Marais toe hy skryf: O treurig die wysie/op die ooswind se maat/ soos die lied van ʼn meisie/in haar liefde verlaat...
Die lig teen die mure van verlange toe Elisabeth Eybers oor haar ma sê: En moeder was ʼn donker vrou/ met ʼn stiletskerp gees...
Afrikaans was die lig in die kloosterkamertjie van Sheila Cussons toe sy bid: vermetel tuis is ek in U...
In die studeerkamers van NP van Wyk Louw toe hy aan haar verklaar: Nog in my laaste woorde sal jy wees/nog in die laaste skeemring van my dink...
Afrikaans is die lig in CJ LANGENHOVEN se studeerkamer op Arbeidsgenot toe hy neerpen: Uit die Blou van Onse hemel, uit die Diepte van ons See...
As jy Afrikaans wil wegneem moet jy duisende ligte gaan afskakel. Moet jy tienduisende boeke gaan haal uit die Afrikaanse skole, regsdepartemente, mediesefakulteite, uit filosofiedepartemente, uit wetenskaplaboratoriums, uit die handboeke van verdedigingsmagte en landbouskole en biblioteke. Daar is en was GEEN ander Afrikataal wat hierdie kontinent al so vroeg in daardie plekke verteenwoordig het nie. Dis ‘n skoot in die siel van Afrika as hierdie taal afstomp en dit is die einde van my verwysingswêreld as Afrikaans weggevat word.
Die wêreld verloor 10 tale per jaar. Daar is al 750 afgestorwe of amperdood tale wêreldwyd. Maar daai tale gaan sommer net dood. Afrikaans is nie so taal nie. Hy kantel nie. En as hy bietjie bloei, is dit omdat daar mense is wat baie hard werk om my taal te kwes. Maar ons taal kantel nie want ons wat dit praat is nie kantelbokke nie. Tog is ons arme taal die sondebok van die eeu. Die wêreld vertel ons dat ons taal nie cool is nie. Maar kom ek sê jou wat: niemand hier gaan jou forseer om Afrikaans te praat nie. Daai dae is verby. Maar hier is wat ek en jy gaan doen: ons werk is om soveel cool dinge in Afrikaans te doen, dat almal dit sal WIL praat. En dit alleen is ons plig teenoor ons nageslag. Om hulle te lei na selfontdekking van hierdie pragjuweel in ons kulturele skatkis.
Ek wil voor ek hier loop vandag sien en hoor hoe julle hierdie taal rondrol in jou kies soos kougom, soos spookasem, soos plomp. Kou hom, want jy kan nie gatvol gekou raak aan ‘n taal nie. Heit. Hier is sommer vier lekker Afrikaanse woorde: kougom, spookasem en, ja .... gatvol. Maar wat is plomp, vra jy?
‘n Bekende kok vertel hoe ‘n visserman ʼn “seebamboes vol kreef of perlemoen stop, dit verseël en dit nét so in die siedende vuur op ‘n Weskusstrand gooi. Wanneer hy die verskrompelde bamboes later oopbreek, is die paljas plomp daarin.” (Mariëtte Crafford)
Kou hom vandag, want jy kan nie gatvol gekou raak aan Afrikaans nie.
Dankie"

http://maroelamedia.co.za/afrikaans/steve-hofmeyr-oor-afrikaans/


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer