Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-04-06 Views:  541
Author:  karelnel
Published in:  Entertainment/Vermaak
Die Tempel Van Noodwendigheid

Die Tempel van Noodwendigheid

 

Ek lê besoek af by die plek - die drie-vedieping-hoë tempel van Noodwendigheid, net 'n hanetree van die middestad af. Die parkering is oorvol en 'n hittegloed slaan van die ge-plaveide area af op, want dit is mid-somer. Ek laat die bestuurderskant venster op 'n skrefie oop dat daar darem 'n bietjie lugbeweging in die motor kan wees en binnetemperatuur nie so hoog sal styg nie. Die wag by die hek het my gewys hoe die nuwe sekuriteitskamera's werk -  van elkeen wat binnekom en weer uitry word 'n digitale gesigsfoto geneem, bo-en-behalwe die toegangskaartjie wat mens weer moet ingee as jy die perseel verlaat.

Nog 'n paar mense stroom na die outomatiese oopknipdeure van die tempel se voorhof. Sodra mens die trappie by die deur nader, skuif die deure na weerskante opsy sodat mens na binne kan gaan, waar dit 'n hele paar grade koeler is as die buite temperatuur, en ook effens donkerder vanweë die effens getinte vensters, en natuurlik die lugversorgers. Die vloere is smaakvolle blink-gladde teëls, glansend skoon gehou deur 'n poleermasjien wat altyd iewers draai. Oral staan rusbanke en gemakstoele rond soos mens in 'n smaakvol gemeubileerde sitkamer sal vind, met byderwetse waterverwe teen die mure. 'n Enkele TV-skerm teen die een muur vertoon ek-weet-nie-wat-nie,en niemand kyk eintlik daarna nie, hoewel daar hier-en-daar 'n mens op een van die stoele rondsit.

Mens merk dadelik dat die fokus van die voorportaal gerig is op 'n ry toonbanke wat met aparte hokkies afgeskort is. In elke hokkie staan daar twee stoele en bo-op die toonbank 'n rekenaarskerm wat deur die priester of priesteres bedien word. Die fyn waarnemer sal oplet dat die tempel verskeie kastes van priesters en priesteresse het. Party sit in kantore 'n bietjie dieper in die tempelgenou in en nou-en-dan vang jou oog een of meer priesteresse met spesiale tempelklere aan. By hierdie hokkies kom al die pelgrims of tempelbesoekers aanmeld – om hul identiteit te verklaar en hulle offers te bring.

Aan die een kant, verby die toonbanke, is die ingang na die binnetempel. Daarheen stroom die besoekers. Ouer mense soos ek, jong mans, maar nie eintlik kinders nie, merk ek. Hulle neem die hysbakke na die verskillende vloere waar sommige in kleiner portale wag om toegang te verkry na die dieper heiligdomme, wat elkeen deur 'n eie komplement van priesteresse bewaak en bedien word.

In een van die sub-voorportale ontmoet ek twee jong manne. Is dit julle eerste keer vra ek? Ja -antwoord die een. My derde een, sê die ander. Jou lewe sal dramaties verander sê ek aan die eerste een. Ja, beslis - beaam die ander een.

Hulle verdwyn uiteindelik in die heiligdom en ek sit in my gedagtes gevange. Ek dink oor die tempel van Noodwendigheid. Hierheen móét hulle kom, gedrewe deur die onkeerbare noodwendigheid van lewensbiologie. Dit móét gebeur. Alles kan nie maar net bly soos dit gister en eergister of tevore was nie. En dié dwingende noodwendigheid is binne - iets wat die helfte van ons net met die verstand sal begryp, maar nooit sal verstaan nie... Dis soos 'n onvermydelike drukgang waardeur hulle moet beweeg. Daar is net een pad daardeur - vorentoe. 'n Dodelike onverbiddelikheid. Daar is eintlik net twee uitkomste - daardeur of die einde, of dalk selfs twee eindes... Na baie voorbereidings en baie geduld en baie gesprekke kom hulle uiteindelik hier na hierdie tempel van benoudheid. Aan die een kant is dit soos 'n oase, 'n plek waar daar hulp is - maar tog die onbekende en onsekerhede waar die gordyn van die toekoms dig om die beddens van nood toegetrek word. Hierheen kom die priesters en hoëpriesters om hul barmhartigheidswerk te doen by die altare van smart en blydskap.

In die allerheiligste kom min van ons. Net die priesterstand en die wat daardeur moet gaan kom daar. Hulle lê op die kliniese altare van verlossing en wag dat die tyd moet aanbreek soos bepaal deur die gesofistikeerde biologiese klok. Minute word gemeet in centimeters van pyngolwe en die eeue oue noodwendigheid word  momentane oorweldigende krisismomente waarby die tyd gaan stilstaan. Dit ontvlam en verteer die bewussyn om gou daarna weer in die vergetelheid te verdwyn. Die interne lewe word eksternaliseer en in rou krete ontsteek die nuwe wesensbestaan. Waar daar een was is daar nou skielik twee. Die een stel moeilikhede en bekommernisse is verby en dadelik is daar 'n nuwe stel. Groot verligting maak plek vir groot sorg. 'n Nuwe toekomshorison het ontvou vanuit die kreukels van 'n komplekse origami. 'n Nuwe vuur het na smeuling begin vlam, en wie weet hoe lank sal dit brand?

Meestal volg daar nou 'n periode van uitputting aan die een kant en ekstase aan die ander kant wat geleidelik, oor 'n paar dae oorggaan in amper normale lewensroetines, met een verskil - daar is nou een nuwe, hulpelose entiteit wat die lewensloop van almal rondom onherroeplik verander.

Soms, net soms word dit nodig dat die altaar van toesig gebruik word in die kapel van die ure waar spesiaal opgeleide priesters en priesteresse dag en nag diens doen voor die kandelaar van die maklik vlietende lewe. Dis dan wanneer dag en nag versmelt tot een doflig van gedempte smeulbestaan, noukeurig onder die toesig van monitorskerms met veelkleurige grafieke en immer wakende elektroniese alarmverstellings en aarvoedende plastieksakkie-ete’s. Hier oksideer die bewussyn tot rokende skynbeelde in die disco van die lewe. Wanneer sal die dag tog kom? Wie is dit wat daar aankom of oor my fluister?

Wanneer ek uitstap is die portaal al leeg en ook die parkeerterrein, want dis lank na middernag -eintlik al vroegmore. Die wêreld het al gaan slaap en begin alweer plek-plek opstaan. Die stad was momenteel stil, maar begin nou al weer in die verte te ruis. Die hekwag vat my kaartjie, neem my digitale gesigsfoto en maak die slagboom vir my oop. Ek ry deur die stil strate stad-uit, huistoe, dankbaar vir die tempel van noodwendigheid, want as hy nie daar was nie, was ons verlies onberekenbaar, nou is die twee lewens self die wins. Ineens besef ek die onbetaalbare ontsaglike rykdom van die blote lewe - die gawe van geïntegreerde sien en hoor en voel en ruik en asemhaal en hartklop en beweeg en eet en bewus wees en geen pyn hê nie. Geen wonder nie dat die Groot Boek vra - wat sal 'n mens gee as losprys vir sy lewe?

Alles.

---000---

KPJ Nel

2016-04-06


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer