Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-04-06 Views:  457
Author:  karelnel
Published in:  Entertainment/Vermaak
Die Kiosk Van Ydelheid

Die Kiosk van Ydelheid

In ons dorp is daar 'n paar van hulle, en ook 'n hele paar verskillende soorte. Mens sou nou nie sê hulle is skadelik nie, want hul kliënte keer weer telkens terug - kompleet soos verslaafdes wat altyd weer desperaat soek na die verligting wat die dwelm hulle bring. Hulle maak wel genoeg geld sodat die verhoudings wedersyds in stand bly - enersyds vir die geld wat daaruit te make is, en andersyds vir die emosionele kruk wat dit verskaf. Dit spreek nie net 'n eksterne behoefte aan nie, maar een of ander diepgewortelde interne een ook. Vat nou maar die een in ons Mall.

Ek sit my voete nie in die plek nie, maar stap gereëld daar verby. Dis 'n plek vir hulle, nie vir ons nie – dié seksie van die volk wat sommer maklik slaai vir ontbyt eet. Blink gladde teëlvloere, klinies skoon soos by die tempel van Noodwendigheid. Dit het glasvensters aan die buitekant, versier met groot lokprente van celebs - 'n mannetjie en 'n wyfie afsonderlik. Oor die mannetjie wil ek nie veel sê nie - want hy lyk soos 'n regte safte pierewaaier, maar dis seker maar die soort van 'n 'look' waarvan die jonges deesdae hou. Die wyfie sit daar uitdagend en kyk jou in die oë met bene gevou en 'n kort-kort rokkie aan, tot wie-weet-nie-waar-nie. En ek bedoel skandelik uitdagend, sodat mens 'n tweede keer in haar oë moet kyk om net dieselfde te sien. Binne die kiosk sien mens verskillende stoele en spieëls en ander apparate asook 'n klein toonbankie vir die bediening van kliënte.

Dit begin alles gewoonlik met 'n telefoonafspraak vir 'n bepaalde tyd en vir  'n verlangde diens. Hulle kom ooreen om intensiewe sorg te kry – die toewyding  van iemand wat daarvoor voorberei is deurdat sy of hy 'n bepaalde opleiding deurloop het. Om te was, te kleur, te sny, te kam, te krul, te las, reguit te maak, strepies in te sit en selfs te kroes en ook weet-nie-wat-nog-nie . Elke afspraak word dan effektief 'n terapie sessie waarin daar gepamperlang en selfbeelde skaamteloos geliefkoos word teen 'n onbehoorlike hoë prys. (Maar wel darem goedkoper as die tarief van 'n sielkundige - net jammer die medies betaal nie daarvoor nie).

Ek kan my eintlik nie voorstel waaroor gesels word gedurende hierdie 'terapie'- sessies nie. Beslis nie die laaste 'game' van die Bulls nie, en ook nie van die 'bull' wat die politici nou weer aangevang het nie. Waarskynlik ook nie oor die nuutste motor op die mark nie. Miskien die jongste baba-aankomelinge, die prestasies van die kinders en kleinkinders, die kwale van die self en van andere, winde wat die hoë bome gevang het en wat in die jongste Sarie geskrywe was. Dalk so hier en daar 'n reseppie ook, of ‘n ou boereraat. Ek sal nie regtig weet nie, want ek sit my voete nie in die plek nie, al betaal hulle my ook.

Mens moet erken die sessies bereik tog 'n sekere doel. Met die uitkoms gaan beslis 'n mate van skoonheid en heerlikheid gepaard wat mense soos ek, wat eerder vleis vir ontbyt eet, nie kan ontken nie - een of ander diepgesetelde aantreklikheid. Dit trek aandag. Eerstens van ander van hulle soort - hulle merk dit dadelik en onmiddellik op, altyd met 'n komplement - dis deel van die spel: ‘ Haai, het jy jou hare laat sny – dit pas jou goed!’. Ongelukkig laastens merk  hul eie mans dit op, as hulle gelukkig is.

Is hierdie fenomeen bloot 'n tydelike opwelling soos 'gousblom’ wat gou weer verwelk? Of is dit 'n enkel treë op die pad na die tempel van Noodwendigheid wat verseker dat ons kronkelpad nie agter die eerste bult ophou nie, maar van horison tot horison voortgaan?  ;-)  !

---000---

KPJ Nel

2016-03-29


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer