Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-04-11 Views:  715
Author:  karelnel
Published in:  Poems/Gedigte
Vryheidsparade - Dublin 2016

Vryheidsparade - Dublin 2016

 

Ek herken die roepstem

en my hart bloei vir mense

van 'n ander volk

en 'n ander tyd.

 

In die vlammende

strate van dublin

verstaan ek iets van

jul droefliedere

wat in donker melodieë

trane uitstort oor vergange

helde van julle vryheid...

 

Ek onthou iets van

ons eie desperate stryd

toe die roepstem van vryheid

oor die wye vlaktes van die sonland

in sterwende vroue en kinders

en afgebrande plase

die hoogste offer gevra het.

 

Hoe sou julle paar

idealiste en dromers

dink julle sou kon

opstaan teen die ge-oefende

imperiale moordmasjien..?

 

Sou die vlam  van vryheid

só hoog brand dat dit

die ywer  van die koningin

kon weerstaan?

Hoe sou julle in die nou strate

en binne klipgeboue ontvlug

waar ons oor die wye vlaktes heen

gejag en van ons vryheid beroof is?

 

Die oorwinning was nie die kanonvuur

wat julle stad verwoes en

julle barrikades verbreek het nie.

Dit was in die kilheid van julle teregstellings

wat die saad van die volk

se  vryheid ontkiem het.

 

Dis hoekom julle vandag

deur soldatestewel en

pantserkar en met verbyvlug

onthou word terwyl die

oorwinnaar maar anderpad kyk.

---000---

2016-03-28


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer