Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-04-11 Views:  898
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Die Paasopstand Van 1916

Die Paasopstand van 1916.

 

Op skool het ek niks geleer van die Iere nie. Hoekom weet ek nie – onlangse nadenke het my laat wonder of dit nie te make gehad het met die invloed van die Engelse op ons land se skolestelsel nie. Ek het altyd gedink die Iere is maar deel van die “Engelse” , daardie groot konglomeraat van mense daar op die eilandjies êrens in die “Noorde” wat ons voorvaders  en voormoeders so op ons herrie gegee het met die bloedige oorloë hier in ons dierbare land, omtrent so 100 jaar gelede.

Ek was bevoorreg om die ‘Smarag’-eiland (Emerald Isle) Ierland, onlangs weer  te besoek, want my dogter is deel van die Afrikaner diaspora wat daar woon. (Askies dat ek myself onderbreek: Dis ‘n baie mooi plek om te besoek – as jy geld het – reis gerus daarheen). Op Sondag 17 April 2016 kon ons nie na my dogter-hulle se kerk in die middestad van Dublin toe gaan nie want daar was groot feesvieringe en optogte in die stad – die honderdjarige herdenking van die  sg. ‘Easter Rising’. Wat dit was het ek aanvanklik geen  ‘kloee’ van gehad nie.

Toe ek die vorige keer daar was het ek probeer oplees oor die geskiedenis van die ‘eilandjie’, net om te probeer agterkom wat ‘in hulle koppe aangaan’. My skoonseun werk vir Google en hy het ‘n lekker fris wi-fi in die huis en ek kon toe maklik bietjie op U-tube kort videomateriaal kyk oor Ierland se geskiedenis. Dit het my hart gebreek, want wat oor meer as ‘n millennium daar gebeur het laat die gebeurtenisse in ons landjie amper soos ‘n Sondagskoolpiekniek lyk, behalwe miskien vir die Mfekane, waarvan ek  in elk geval nie veel weet nie. Deur die eeue heen is die eiland ingeval van die see af (byvoorbeeld deur die Vikings) , beroof, geplunder, afgebrand, mense doodgemaak en ander sulke dinge wat mense aan mense doen. Oral op die eiland, byvoorbeeld, is daar bouvalle van  antieke kastele en veral ook van groot torings (met enigste deur ‘n verdieping of twee van die grond af – en net met ‘n baie lang leer toeganklik) wat by  kerke of kloosters gebou is waarheen mense kon vlug as die vyand sou aanval. Een van die vernietigendste episodes was die herhaaldelike mislukking van die aartappel-oes in die 1840’s toe miljoene (letterlik) mense van honger omgekom het en nog honderdduisende noodgedwonge moes emigreer, terwyl Ierse landbouprodukte deur die Engelse politieke leierskap na Engeland uitgevoer is.

‘n Ander kwessie wat ons hier van die Suide af ook nie mooi verstaan nie, is dat die pragtige eiland in twee verdeel is. Die grootste deel van die eiland staan bekend as ‘The Republic of Ireland’ met hoofstad Dublin, en die kleiner Noordelike deel staan bekend as ‘Northern Ireland’ met hoofstad Belfast. Die  Noord-Ierland gedeelte van die eiland staan onder beheer van Engeland (die Britse kroon) terwyl die Suidelike deel van die eiland ‘n onafhanklike republiek is. In die Republiek gebruik hulle die Euro as geldeenheid en in Noord Ierland die Britse Pond. ‘n Mens kom gou agter dat hierdie poliitieke verdeeldheid nog vlak lê in die Iere se gemoed, en dit lê nog baie ongemaklik daar. En daarmee saam gaan ‘n diepgewortelde weersin teen die ‘Engelse’.

Byvoorbeeld in Dublin. As mens  deur van die woongebiede ry vind mens baie wooneenhede (apartments) met deure wat direk op die straat uitkom. Die deure is almal in die helderste kleure geverf – rooi, groen , blou, bruin en watter kleure nog. Dit word vertel dat  op ‘n stadium die Engelse koningin gesterf het (seker Victoria?) en toe word ‘n dikreet uitgevaardig – as teken van rou moet almal hul voordeure swart verf. Dis toe dat die Iere besluit het hulle sal liewers ander kleure gebruik – en dis vandag nog so. Miskien net om te wys hoe bly hulle is dat die ‘kwieen’ dood is!?

As mens nou met die voordeel van verafperspektief kyk na die draai van die vorige-vorige eeu kom mens agter dat dit ‘n polities-woelige tyd was. Die Britse ryk was welsiwaar op sy hoogtepunt, met sy magtige vloot as ruggraat van  hulle mag en duisende Britse soldate wat oral die Britse “kwien” se invloed laat geld het. Ons onthou mos van die eerste vryheidsoorlog in die 1880’s met die ZAR en die ontdekking van goud en die vrede wat gesluit is. Ons weet mos van die tweede vryheidsoorlog aan die einde van die eeu en die  bittere Vrede van Vereniging. Hoe  lekker kry ons nie om die stories te hoor van ‘n De Wet en De la Rey en hulle tydgenote wat die magtige Britse kroon ‘A Run  for their money’  gegee het nie! Hoe swaar luister ons nie na die stories van hoe ons voorvaders oor die wye velde van die land gejag is deur die oorweldigende kruipende oorlogsmasjien van die ‘Engelse’ nie? Hoe hartseer word ons nie as ons luister na die verhale van afgebrande plase en sterwende moeders en kinders in konsentrasiekampe nie? Maar kort daarna was daar ook die groot oorlog van 1914 (WW1) waarin die Engelse betrokke was, die rebellie hier in ons eie land, die Ierse rebellie van 1916 en die Russiese rebellie van 1917.

Dis in hierdie konteks waar die 1916 ‘Easter Rising’ inpas. Die  altyd onderliggende gees van Ierse Nasionalisme en begeerte na vryheid moes juis in die tyd  na vore kom – die Iere wou die Engelse juk van hulle afwerp. Vir jare alreeds was daar al burgerlike verdedigingseenhede gestig en hulle het parades en kampe gehou, veral rondom die stad Dublin. Die rebellie was fyn beplan – dit sou begin met die hou van  parades in Dublin, maar die  vryheidsgesindes het nie wapens gehad nie. Hulle het toe met Duitsland ooreengekom om aan  hulle wapens te lewer, hoewel die Duitsers geweier het om troepe te stuur om te help. Die Duitsers het toe ‘n duikboot gestuur asook ‘n vragskip met wapens. Ongelukkig/ gelukkig(?) is die vragskip deur die Engelse vloot onderskep en uiteindelik gesink. Een van die vername leiers van die rebellie wou toe die hele opstand  kanselleer, wetende dat hulle sonder wapens tot mislukking gedoem was,  maar hy was te laat.

Die opstand het toe begin op Maandagoggend, Paasmaandag, 24 April 1916. Die rebelle of Vryheidsgesindes  (Sinn Fein) het stilweg die stad ingegaan en eensklaps sekere  belangrike geboue beset. Hulle het daarna  strategiese beheerpunte beset en verskans en kommunikasie na buite begin verbreek, soos byvoorbeeld om treinverbindings te saboteer. Hulle het hul hoofkwartier in Dublin se hoof poskantoor  ingerig en vandaar is hulle beroemde  ‘Proklamasie’ uitgelees deur Pat Pearce en mede-onderteken is  deur Thomas Clarke, Sean Mc Diarmada, Thomas Mc Donald, Eamonn Ceannt, James Connoly en Joseph Plunkett. Daar was  klaarblyklik sowat 1000 vegters van Sinn Fein, almal maar net lig bewapen (persoonlike wapens en eie rantsoene). Gelukkig vir hulle was die Britse garnisoen op die Maandag byna almal by die perdereisies. Van die stad se inwoners het ongelukkig die kans benut om voorrade ‘aan te vul’ en het van die winkels begin plunder en dit kon nie beheer word nie. Aanvanklik het die Sinn Fein groot suksesse behaal toe die Britse soldate probeer optree het en heelwat van hulle het gesneuwel in die proses.

Maar die uitslag was ‘n voldonge feit. Die Engelse het duisende troepe ingebring en uiteindelik met masjiengewere en veral Artillerie die geboue en vestings van Sinn Fein vernietig en die stad se binnekern verwoes. Teen die Vrydag was alles oor en moes die  vryheidsgesindes oorgee. Vier-en-sestig rebelle, honderd-vier-en-dertig Britse soldate en  tweehonderd-vier-en-vyftig siviele persone was dood. Die leiers van Sinn Fein is gevange geneem en meeste van hulle is in die weke daarna  tereggestel  deur ‘n vuurpeleton. Hierdie genadelose fussilerings het die bevolking geruk en het die nasionalistiese  gevoel onder die Iere net versterk. Enkele jare daarna, in die 1920’s het Ierland ‘n selfstandige republiek geword, hoewel die Noorde van Ierland nie daarmee saamgegaan het nie, en onder Britse beheer gebly het.

Terwyl ek kort uittreksels van die groot militêre parade deur Dublin, seker die grootste van sy soort in die Ierse geskiedenis, op TV gekyk het, kon ek nie help om te wonder oor die  pynlike geskiedenis van daardie volk nie, en wat sou die toekoms nog vir hulle inhou? Ierland is nou ‘n land wat sterk groei en wat gunstige ‘n belasting-regime aanbied vir besighede wat hulle daar wil vestig. Daar is ‘n toestroming van jong professionele mense vanuit alle wêrelddele en heelwat kosmopolitaanse gemeenskappe ontstaan in Ierland. Veral die Westekant van die eiland is blykbaar nog baie ongerep en het ‘n lae bevolkingsdigtheid – dit word meestal deur boerderye beslaan. Die nat, koel-tot-koue en son-arm klimaat is ongelukkig iets waarby ons mense, wat die son in ons bloed het, moeilik aanpas. En daarby is dit duur om daar te bly.

Ek kon dit ook nie help om oor die Engelse na te dink nie – hoewel daar nie ‘n enkele Engelse vlag op die luisterryke parade te siene was nie. Watter leed het hulle nie in ons eie land ingebring nie – maar ook watter baie ander voordele het hulle nie vir ons gebring nie!!?? Ons was destyds eensklaps ingedwing in die wye wêreldbestel waarvan ons vandag nog deel is. Wie kan ontken dat hulle die  wêreld vir ons oopgemaak het, veral ook met die Engelse taal!? In die wêreld gebeur daar altyd goeie EN slegte dinge met mense. Hoe moet mens dit verstaan?

Ek weet nie hoe jy dit verstaan nie – maar gelukkig verstaan en ervaar ek dit soos die Groot Boek daaroor praat in Rom 8:28.

Groete

k

---000---

2016-04-07

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer