Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2016-04-11 Views:  822
Author:  karelnel
Published in:  Entertainment/Vermaak
Die Knippieskiosk

Die   Knippieskiosk

 

Mens gaan sommer net – g’n ge-afspraak-makery nie, sommer niks van die aard nie. Jy maak net die deur oop en gaan in en siedaar!! In die ou dae was hulle alreeds 7 uur oop om die manne wat werk toe gaan kans te gee om gou in te kom voor werk om gediens te word, maar deesdae is dit bietjie anders. Gewoonlik is daar een of twee manne voor jou in die ry, maar dit maak nie saak nie – dis deel van die pret, want dis lekker om te hoor wat hulle met die operateurs gesels.

Die plek is eenvoudig, onopgesmuk – maar funksioneel. Op die deur en glasvensters is ondeursigtige ‘stryt-forward’-advertensies wat sê wat die plek doen – nogal met kiekies van die ou dae en ou karre en miskien Brylcream en dalk ‘n skuins wit paal met rooi strepe skuins-spiraal daaroor geverf. Binne is twee of drie spesiale stoele bedoel vir grootmense, en gewoonlik ‘n plankie wat bo-op die sitplek kantrelings pas vir as daar ‘n klein mannetjie (seuntjie) bedien moet word. Saam met elke stoel is daar ‘n ligte doek om die kliënt mee toe te maak en sy klere te beskerm en elke operateur het sy eie beskeie stelletjie gereedskap: ‘n Elektriese knipper met vier of vyf aanknip kammetjies, een of twee skêre, ‘n paar kamme wat in ‘n bottel (koue) onstmetmiddelwater staan, dalk nog ‘n outydse skeerlem, ‘n sproeibottel met (koue) water en dis alles netjies uitgepak op die toonbankie voor die groot spieël. En dan is die operateur se naam gewoonlik ook nog duidelik naby sy stoel op die spieël geplak, sodat mens kan weet met wie jy te doene het. Op die mure is die interessantste prente van die ou dae en allerhande snaaksighede  en goete wat die haarkappers van die ou dae gebruik het.

 

Die kliënte sit op eenvoudige stoele of ‘n bankie en wag – sonder moeilikheid. Hoewel daar oënskynlik geen stelsel is wat die volgorde bepaal nie, weet die manne tog intuitief – hierdie paar was voor my en dié ouens het na my gekom en so word die orde sonder woorde gereël. Solank daar netnie ‘n volksvreemde inkom wat nie ons kode verstaan nie, werk alles goed. Daar is tydskrifte op die tafeltjie – gewoonlik die oggend se koerant, ‘n Landbou Weekblad of twee, tydskrifte oor motors, tydskrifte oor jag en wapens en dalk iets oor reise en toere. Geen ge-Sarie  of Women’s weekly of sulke ‘sissie’-tydskrifte nie. Die manne gee ook nie om om die koerant te deel nie – vat jy die sport gedeelte en iemand anders die besigheidseksie, dan is dit OK, en as ons klaar is ruil ons net om.

In die ou dae was dit ooms wat die werk gedoen het, vandag is dit meestal mooi poppies – nogal iets om na te kyk terwyl hulle so besig is – netso  skalks loer darem, bo-oor die koerant bedoel ek.  Die kwaliteit van die werk het seker min-of-meer dieselfde gebly, maar die inhoud van die gesels het tog anders geword. Die ou ooms kon saampraat oor die droogte en die reën wat wegbly en  die wind wat die jaar verkeerd waai en die toestand van die mielies, die nuwe trekkers en die ko-operasie se dinge, die dieselpryse, mileliepryse en vleispryse. Dan was daar nog die bedrywighede van die Natte en die Sappe, die skandalige kort rokkies wat die kinders deesdae dra en die oulike Duitse onderwyseres wat die jaar by die Hoërskool begin het. Vandag kan mens darem nog so oppervlakkig praat oor die Bulls wat so sleg vaar, waar mens kan die beste vleis koop vir ‘n braai en watse  werk haar man doen. Net mooi oppas wat jy sê, want die een sê miskien hulle is al ‘n jaar of twee “saam” maar het nognie aan trou gedink nie – die  opvoeding van die kleintjie en die kleuterskool se dinge hou hulle te besig. In die ou dae sou dit ‘n taboe onderwerp gewees het want –‘wat sou dominee sê?’

As dit nou by die knip gedeelte kom is dit maklik: ‘Short-back-and-sides’ of ‘kort-en-taper’ of ‘boy’s-cut’ of ‘militêre snit’ of ‘kort maan netnie square nie’ of soms net nommer 3 of nommer 4. Dis lekker om te sien hoe die klosse hare val en in sulke hope op die vloer lê – laat mens dink aan skaapskeertyd op die plaas. As jy bietjie lank laas daar was moet sy halftyd bietjie die druklug vat en jou skouers van hare skoonblaas, anders kan sy nie meer behoorlik sien om te werk nie. Dis nou waarde vir jou geld!! Dis natuurlik eintlik snaaks as een van daai  Johnnies met die lang hare daar inkom en eintlik sy geld kom mors deur net te laat trim. Maggies man – as jy nou moet die geld uitgee, vra haar tog om ‘n ordentlike job te doen en klaar te kry!! Party knip goed met die knipper, andere is beter met die skêr terwyl hulle met hul vingers herhaaldelik deur die hare kam om ‘n eweredige snit te verseker.

Dan knip hulle jou kuif reg, maak jou nek nat met ‘n wattetjie en skeer die nekhare skoon met die  groot skeerlem wat eers een of twee keer heen-en-weer oor ‘n leerriem tot vlymskerp geslyp word . Die skeerlem word na die tyd netjies skoongevee met die wattetjie wat dan behendig met ‘n boog binne in die asblikkie gegooi word, waarna die lem sorgvuldig toegevou en gebêre word. Dan word die hare van jou afgeblaas met druklug wat die koue watertjies op jou nek byna laat verys en dan kom daai aaklige koue sproei – water op die hare sodat dit gekam kan word. Kam eers vorentoe en dan ‘n bietjie na links en dan die res na regs sodat die paadjie mooi reguit oopgaan, en siedaar! Jy is weer so ‘vit soos ‘n viddel’! Sommige is so gaaf en knip die hare in jou ore, jou ooghare (as die bietjie wild gegroei het) en soms, net soms, ook ‘n lastige neushaar of twee. Geen wonder dat hulle koue ontsmettingsmiddelwater het wat hulle gebruik om die instrumente te steriliseer nie!

Sy vou jou oop om jou te laat gaan en jy wonder wanneer laas het jy soveel aandag van ‘n mooi jong poppie gehad!? Nou net vir die betaalslag, en jy betaal die R70 met ‘n ‘smaail’ of die R55 op Woensdae as jy ‘n pensioenaris is met ‘n goeie hart. Ek het al gewonder of hulle nie ‘n soort van ‘n kunsmis in hulle sproeiwatertjies sit nie – want snaaks genoeg, binne ‘n maand is die hare al weer so lank dat mens net móét teruggaan vir hierdie noodsaaklike diens. Hierdie mense is tog die sout van die aarde! Ons kan nie sonder hulle doen nie! ;-)

---000---

KPJ Nel

2016-04-07

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer