Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-02 Views:  1909
Author:  karelnel
Published in:  Security/Sekuriteit
Gemeenskapspolisiering - Vanwaar?

Gemeenskap-polisiëring : Vanwaar?

Ons weet dat baie dinge na 1994 verander het. Die polisiëringsopset in die land is een van hulle. Baie teenstaanders van die vorige regime het gevoel ons wat destyds in ‘n ‘polisiestaat’, verder ook met onderdrukkende militêre magte. Daar was derhalwe na 1994 ‘n beweging om die magte ‘onder siviele beheer’ te kry. Dit was deels die rede waarom die Vededigingssekretariaat gestig is (beheer oor die  militere magte), en ook soortgelyke bewegings om die polisie “onder beheer” te kry. Die polisie moes ‘n vriendeliker gesig kry – dink aan die ‘demilitarisering’ van die rangstruktuur – en daar moes ook ‘vriende’ gemaak word met die publiek. Die wetgewing is daarvoor aangepas en die begrippe van ‘Community Policing’ en ‘Partnerhip Policing’ en ‘Sector Policing’ het nuwe modewoorde geword.

Die Polisiewet no 68 van 1995 gee beslag hieraan in Hoofstukke 7 en 8. In Hoofstuk 7 word die stigting van Gemeenskapspolisiëringsforums en – rade gemagtig en in Hoofstuk 8 word die minister die mag gegee om regulasies in die verband uit te bring. (Interessant dat Hoofstuk 10 terselfdertyd die stigting van ‘n Onafhanklike Klagte Direktoraat magtig)

Hoofstuk 7 is eintlik kort en kragtig. Dit stel die doel van die stukkie wetgewing as die daarstelling van ‘n vennootskap met die publiek om die polisie te verbeter, die samewerking tussen die twee partye te verbeter, om groter deursigtigheid te bewerkstellig en om probleme makliker te kan oplos. Om dit te kan doen word die stigting van Gemeenskapspolisiëringsforums gemagtig, wat self weer Sub Forums kon stig. Daar word ook voorsiening gemaak vir die stigting van soortgelyke hoër liggame genoem Area Polisie Rade (Area/Cluster Boards) en Provinsiale Polisierade om hierdie hele struktuur tot op Nasionale vlak te kon bestuur. Funksies vir die rade word kortliks beskrywe en beknopte prosedures word voorgeskrywe oor die kies van voorsitters, die stuur van afgevaardigdes na hoër vergaderings, notules van vergaderings en samewerking. Daar word klem gelê op die vrywillige aard van die aksies.

Die wetgewing het meer beslag gekry met die publisering van die meer lywige  “Interim Regulasies vir Gemeenskapspolisiëringsforums en – Rade” op 11 Mei 2001. Dit handel oor die onderstaande onderwerpe:

Dit is die verantwoordelikheid van die Stasie Kommissaris om die Gemeenskaps Polisieringsforum (GPF) te stig deur die publiek te nooi en ‘n stigtingsvergadering te hou waar ‘n stuurkomittee saamgestel moet word. Die stuurkomittee moet ‘n konstitusie saamstel en weer ‘n publieke vergadering saamroep waar die konstitusie aanvaar en ‘n nuwe bestuur gekies kan word. Die konstitusie en name van die bestuur moes dan aan die hoër vergaderings deurgegee word.

Die interim regulasies dui vervolgens aan dat die GPF dan op dieselfde wyse moes voortgaan om na behoefte Gemeenskaps Polisiëring Subforums te stig. Dit magtig verder die stigting van Area Polisie Forums en Provinsiale Polisie Forums (op hoer vlakke) op ‘n soortgelyke wyse.

Vervolgens word ‘n klompie algemene beginsels bespreek. Eerstens word dit duidelik gestel dat die GPF strukture geen bevelsmagte oor die Polisie sal hê nie, en dat hulle geen Polisiefunksies mag uitvoer nie. Die GPF mag geen politieke doelstellings nastreef nie, en mag geen insae hê in polisierekords en-leêrs nie. GPF kan geen aanspraak maak op die gebruik van polisietoerusting nie, behalwe met skriftelike toestemming. Dit word verder duidelik gestel dat elkeen van die liggame ‘n konstitusie moet hê.

Die konstitusie moet aan sekere vereistes voldoen en dit word beskrywe. Dit moet die naam van die liggaam, die doelstellings en ‘n gedragskode duidelik uiteensit en mag nie diskrimineer in terme van lidmaatskap nie (bedoeling: maak die GPF verteenwoordigend van die gemeenskap). Aandag word gegee aan die funksies van die Bestuurskommittee en die verkiesingsprosedure vir bestuurslede. Daar word klem gelê op die noodsaaklikheid van kommunikasie met lede, hoe finansies hanteer moet word, hoe dissiplinêre aksies hanteer moet word, hoe so ‘n konstitusie verander kan word en wat gemaak as ‘n GPF moet ontbind.

Aandag word verder gewy aan ‘n baie belangrike rigtinggewende bestuurshulpmiddel in die effektiewe voorkoming en bestryding van misdaad in die samelewing – die Gemeenskapsveiligheidsplan. Om die doelwitte van Gemeenskapspolisiëring te verwesentlik word bepaal dat die GPF en die Stasiekomissaris gesamentlik ‘n Gemeenskapsveiligheidsplan (waaruit misdaad bestrydingsdoelwitte ooreengekom word) moet opstel wat dan as bestuursplan vir toekomstige aksies sal dien.

Die GPF word verplig om gereeld besluite na hul lede te kommunikeer. Die polisie moet die GPF inlig van veranderinge in die wet, regulasies en ander dokumente wat ‘n impak het op die GPF, en moet selfs alle ongeklasde omsendbriewe met die GPF kommunikeer. GPF lede mag uitgenooi word na polisiestasie bestuursvergaderings. Die stasie is egter geensins verplig om die GPF met akkommodasie of dienste te ondersteun nie.

Besondere aandag word gegee aan finansiële prosesse. GPFs en Sub Forums mag wel finansies insamel. Die bestuur van finansies moet egter ten volle aan GAAP- praktyke voldoen en moet jaarliks aan oudit onderwerp word. Daar mag geen wins gemaak word nie en niemand mag besoldiging ontvang nie. Geen Art 21 maatskappy mag gevorm word nie en die  finansiële jaar word voorgeskrywe om te loop van April tot Maart.

Ten slotte word bepaal dat die dispuutoplossingsproses hierargies moet verloop naamlik, van GPF na Area, van Area na Provinsie, van Provinsie na Nasionaal. Die Interim regulasies word dan terugwerkend van krag gemaak.

Sedertdien het sekerlik baie meer dokumentasie oor die onderwerp die lig gesien waarvan die ondergetekende nie bewus is nie. Beide die plaaslike SAPD en die GPF is in die verlede al (skriftelik) versoek om ‘n voorligting te reël om hierdie inligting met die gemeenskap te deel, maar dit is nie gunstig ontvang nie. Op 30 Oktober 2010 het ‘n ander dokument die lig gesien wat wel belangrik ge-ag was naamlik die “Declaration of Receipt of National Instruction on Sector Policing”. Dit hanteer die onderstaande sake.

Die doel van sektorpolisiëring en die rol van die Sektor bevelvoerder word bespreek. Dit blyk dat die sektor bevelvoerder ‘n polisiebeampte is wat ‘n redelike belangrike rol en magte het in die uitoefening van polisiëring in ‘n bepaalde sektor. Daar word aandag gegee aan die rol van die gemeenskap in polisiëring in terme van strukture en die affiliasie by sodanige strukture. Hierdie strukture kry die naam van “Gemeenskap Veiligheid Strukture” (Community Safety Structures) en hier kry die konsep van buurtwagte, blokwagte, plaaswagte, besigheidswagte ens dus aandag.

Daar word vir die Gemeenskap Veiligheidstrukture ‘n baie eenvoudige vereistes vir affiliasie by die GPF gestel naamlik:

  • ‘n Konstitusie en gedragskode moet voorgelê word

  • Die Naam van die organisasie moet gegee word

  • ‘n Kaart van die organisasie se werksgebied moet voorgelê word.

  • Name van die organisasie se lede en die lede van die bestuur moet verskaf word.

Die rol van Gemeenskap Veiligheidstrukture word vervolgens as volg beskrywe: Hulle moet slegs die oë-en-ore van die polisie wees (waarneming en rapporteringsrol), maar mag patrollies as afskrikmiddel vir misdaad gebruik. Hulle het ‘n verantwoordelikheid om, as hulle eerste by ‘n misdaadtoneel aankom, die toneel onversteurd te bewaar, hoewel hulle in uitsonderlike omstandighede wel ‘n burgerlike arrestasie mag doen. Dit word beklemtoon dat hulle diens ten alle tye vrywillig is en dat hulle goeie verhoudinge in die buurt moet bevorder terwyl hulle aangemoedig word om misdaad onverwyld te rapporteer.

Die volgende beperkings word uitdruklik gestipuleer:

  • Geen politiek mag bedryf word nie

  • Geen bemarking or verkoop van sekuriteittoerusting of dienste

  • Geen lidmaatskapfooie is afdwingbaar of mag gevra word nie

  • Kan nie deelneem aan misdaad operasies nie

  • Kan nie SAPD kentekens of uniforms dra nie

  • Mag nie roterende of flikkerende ligte gebruik nie – enige kleur

  • Het geen bevelsgesag oor die SAPD nie

  • Geen toegang tot SAPD leers en registers nie

  • Gebruik polisie eiendom slegs met skriftelike toestemming

  • Mag nie polisie voertuie gebruik nie

  • Mag nie vestig as art 21maatskappy nie

Die uiteensettings hierbo is slegs ‘n opsomming van die inhoud van drie belangrike dokumente wat verskyn het oor Gemeenskapspolisiëring. Dit verteenwoordig nie noodwendig die nuutste stand van sake nie. Dit sou wonderlik wees as die SAPD, met die kundiges wat hulle tot hulle beskikking het, ‘n behoorlike uiteensetting aan die publiek kan gee sodat die vennootskap vir gemeenskapsveiligheid meer effektief binne die wet se bedoelde raamwerk uitgeleef kan word deur ‘n goed-ingeligte samelewing.

---000---

KPJ Nel

2015-01-02


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer