Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-03 Views:  795
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Watter Bybelvertaling?

Watter Vertaling?

 

Miskien het u ouers/ grootouers u ook vertel van die bittere stryd in die Afrikaanse kerke die tyd toe die eerste Afrikaanse Bybel uitgekom het. Mense het gevoel dat die Afrikaans van daardie tyd net nie dieselfde eer aan die Bybel verleen het as die Nederlands nie. Vandag sal ons dink - hulle was darem maar eintlik belaglik! Netso was daar ‘n bohaai opgeskop met die Nuwe Afrikaanse vertaling, asook met die nuwe Afrikaanse gesangeboek.

Dit is natuurlik nie snaaks om met elke verandering teenstand te kry nie, want  enige groep bestaan uit mense wat meer behoudend is, en ‘n ander klomp wat meer waagmoed het om nuwe dinge te probeer. As mens die een klomp tevrede stel, dan is die ander groep weer ontevrede.

Daar is natuurlik goeie meriete in die 1983 Vertaling van die Afrikaanse Bybel. Mens moet erken dat dit in ‘n Afrikaans geskrywe is wat maklik op die oor val. Dit gebruik uitdrukkings wat ons ken en maak daarom die betekenis van die teks duideliker  as in die 1933/1953 Vertaling. Iets soos “Die Boodskap” lees selfs makliker. Hierdie proses om die Bybel meer leesbaar te maak het natuurlik lankal plaasgevind in Engels – ek onthou die tyd toe ons nog op Varsity was en die ‘Good News for Modern Man” verskyn het! (Die laat sestigs!) Baie vertalings is vandag gratis beskikbaar op die Internet. (Ken u die uitstekende Bybelhulpmiddel E-sword? Laai hom gerus af - dis gratis!)

Tog hou ek  by voorkeur van die Ou Vertaling (1933/53). 

U sal weet dat vir die Jode die Skrifte heilig en onveranderlik was - tot op die letter. Die Skrifte is met onuitspreeklike moeite akkuraat gekopieer van geslag tot geslag. Daar was nie sprake daarvan dat die Skrifte verander kon word nie - nie eers ‘n letter nie. Die filosofie is natuurlik in die middeleeue volgehou toe die Bybel in kloosters deur monnikke oorgeskrywe is.  Hieruit spruit die fundamentalistiese siening dat die Skrifte letterlik geïnspireer is: elke woord wat daar is, is deur God se eksplisiete bedoeling daar, en elke woord wat nie daar is nie, is ook deur Sy bedoeling nie daar nie.  Dit is daarom nodig om so noukeurig moontlik op elke woord in die teks te let.  Die nuwe vertalings is deel van ’n ander filosofie wat strewe om die konsep (soos die vertalers dit verstaan) te probeer verwoord. Dit het die gevolg dat die ou en nuwe  vertalings op heelwat plekke verskillende begrippe kan  oordra. (Dit benewens die feit dat moderne vertalings baiekeer ander grondtekste gebruik, en nie al die materiaal bevat wat in die ou vertalings voorkom nie). 'n Ander wonderlike hulpmiddelis die sogenaamde Interlinieere vertalings waar daar woord-vir-woord vertaal word. Nogal 'n wonderlike ervaring om dit te lees!

So sê die 1983 vertaling bv in Rom 1:9 dat Paulus die Here in “hart en siel “ dien, terwyl die 1953 vertaling sê: “God wat ek in my gees dien”. Gesien in die lig van 1Tess 5:23, asook Joh 4: 23, kan die twee vertaalwyses as verskillend geinterpreteer word. Om bepaalde redes bestaan daar verskillende woorde vir siel en gees, en as die Bybel die woorde gebruik is dit met ‘n rede. Wanneer mens nou vry vertaal, volgens die konsep wat jy het, dan raak die vertaling los van die inhoud van die bepaalde woord. Soms maak bloot die teenwoordigheid of afwesigheid van ‘n lidwoord ‘n verskil.

Daar word verder baie argumente gevoer vir of teen  nuwe vertalings. Baie argumente gaan oor die grondtekste wat verskil. Ander gaan oor konsepte wat afgewater word, byvoorbeeld die “Engel van die Here” in die ou vertaling kan sien op Christus, terwyl in die nuwe vertaling dit  nie maklik so interpreteer kan word nie. Oor hierdie argumente wil ek my nie hier uitlaat nie.

Ek dink ‘n redelike standpunt sou wees om die Ou Vertaling as anker vertaling te bly behou, maar om vir duidelikheid die nuwe vertalings daarmee saam te lees. Jesus sê self die Skrif kan nie gebreek word nie, en dat geen jota of tittel van die wet sal verbygaan nie. Die feit dat by die Ou Vertaling volstaan word moet dus nie as bloot ‘n konserwatiewe standpunt gesien word nie.

Mag die Here egter gee dat ons Sy Woord sal liefkry en dit sal bewaar. Soos Jesus sê Sy woorde is gees en is lewe! Die Skrif sê ook Sy Woord sal nie leeg na Hom terugkeer nie. Daarom moet ons dit koester en in ons harte dra.

---000---

KPJ Nel

2015-01-02


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer