Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-03 Views:  1420
Author:  karelnel
Published in:  Security/Sekuriteit
Gemeenskapspolisiering - Vanwaar? - Deel 2

Gemeenskapspolisiëring – Vanwaar? – Deel 2

Die vorige artikel oor die onderwerp het gehandel oor sommige amptelike dokumente wat rigtinggewend was in die daarstelling van gemeenskapsveiligheidstrukture, ook in Hartbeespoort. Die fokusdokument, wat bedoel is om die wetlike en regulatoriese vereistes af te kaskadeer tot op plaaslike vlak, is natuuurlik die GPF konstitusie. Oor die belangrikheid van ‘n konstitusie is reeds tevore berig.

Tot op datum van hierdie publikasie wil dit voorkom asof die Hartbeespoortdam GPF nie ‘n amptelik goedgekeurde konstitusie het nie. (Skrywer is oop vir korreksie) Daar is wel ‘n konstitusiedokument, gedateer 9 Februarie 2007 in omloop, maar dit is gemerk as ‘n konsepdokument. ‘n Skrywe aan die plaaslike SAPD, alreeds in 2011, om die amptelik aanvaarde konstitusie op te spoor, het geen reaksie gehad nie. In onlangse GPF vergaderings het die voorsitter, Mnr Mc Ferrier, aandag gegee aan die goedkeuring van ‘n bygewerkte konstitusie, maar dit is nie duidelik deur watter proses dit deur die gemeenskap aanvaar en goedgekeur moet word nie. Sou daar nie ‘n behoorlike proses, met ‘n goeie ouditspoor, gevolg word nie, sal die ‘nuwe’ konstitusie natuurlik van meet af aan ongeldig wees.

Die konsepkonstitusie  (19 bladsye) is ‘n goeie dokument, hoewel dit besliste leemtes het. Die inhoud van die konsep konstitusie en sommige van die leemtes word hieronder kortliks bespreek.

In die voorwoord van die konstitusie  word die konteks van gemeenskapspolisiëring gestel as een van samewerking en mede-verantwoordelikheid, verwysende na die konstitusie van die RSA en die polisiewet. Vervolgens word die GPF gedefinieer as ‘n vrywillige organisasie wat adviserend teenoor die Polisie optree en ‘n regspersoon in eie reg is. In die doelstellingsparagraaf word sake soos verhoudingsbou, kommunikasie, vennootskap en samewerking en deursigtigheid en andere  gelys. Die organisasie word benoem as die GPF van die area (Hartbeespoortdam) en dit is nie duidelik of die konstitusie die onderhorige Sub-forums insluit nie.

Die paragraaf oor lidmaatskap is interessant. Dit stel dat organisasies, individue en institute lidmaatskap kan opneem en dat organisasies moet registreer vir lidmaatskap, maar daar word niks gesê oor hoe individue en institute lede word nie.  Dit is nerens duidelik wat die verskil tussen ‘n organisasie en ‘n instituut is nie. Organisasies kan verder na goeddunke van die stasiebevelvoerder gegroepeer word en as sulks deur 'n enkelstem op die GPF verteenwoordig word. Die GPF moet verteenwoordigend van die samelewing wees en geen lidmaatskapfooie mag gevra word nie. Organisasies wat aansluit is eers na 6 maande stemgeregtig en geen politieke partye mag lidmaatskap opneem nie. Daar word gestipuleer dat die stasiekommissaris en ‘n aantal van sy nominante ex-officio deel van die bestuur vorm. In ‘n enkele paragraaf word gestipuleer dat elke sektor van die area ‘n Sub-forum moet hê, met die implikasie dat sodanige sub-forum op die GPF verteenwoordig moet wees.

Voorts word aan elke permanente inwoner van die area sekere regte toegeken naamlik dat hulle kan deelneem aan alle forum aksies, hulleself verkiesbaar kan stel, toegang kan hê tot die forum se rekords en dat hulle die Algemene Jaarvergaderings kan bywoon. (Let daarop dat om hierdie regte uit te oefen daar nie die voorvereiste van lidmaatskap gestel word nie, hoewel dit seker die bedoeling is) Hierdie paragraaf bevat ook ‘n nota wat dit stel dat slegs amptelike verteenwoordigers van organisasies en geregistreerde individue stemregte het. (Nerens word geregistreerde individue gedefinieer nie)

Die volgende paragraaf handel oor die pligte van lede. Hulle moet die GPF se doelwitte nastreef en die publiek verder aanmoedig tot deelname. Hulle kan deelneem aan GPF projekte en moet insette aan die polisie gee. Hulle sal aanspreeklik wees teenoor die gemeenskap (onsinnig?) en die vereiste word gestel dat hulle die polisierange moet respekteer. Ook ‘n paar ander algemeenhede soos die stiptelike bywoning van en ordelike gedrag by vergaderings.

Vervolgens word die bestuur van die GPF gedefinieer en spesifiek word die voorsitterskap toegeken aan ‘n verkose siviele persoon uit die gemeenskap. Die onderskeie bestuursposisies word uitgespel, en daarna ook reelings tov die algemene jaarvergadering, spesiale algemene vergaderings, forumvergaderings en maandelikse bestuurvergaderings. ‘n Kort verwysing na ordelike prosedures wat op vergaderings gevolg moet word, word gegee. Interessant dat daar wel kworums van vergaderings gedefinieer word, maar dit word gedoen in terme van geregistreerde lede, wat nerens gedefinieer is nie. Spesiale aandag word gegee aan finansiële bestuursaspekte, die magte en pligte van bestuur en baie spesifieke detail van die verkiesingsproses van bestuurslede. In hierdie paragrawe word ook tersluiks verwys na beamptes wat ex-officio op die bestuur moet sit, maar dit word nie duidelik omskrywe nie.

Hierna word die stigting en funksies van sektor sub-forums bespreek en dit wil uit die teks voorkom of die sub-forums op dieselfde beginsels moet funksioneer as die GPF. Dit is nie duidelik of elke sub-forum hule eie konstitusie moet hê, en of hulle implisiet  onder die GPF se konstitusie inigesluit is nie.

Die gedragskode word kortliks bespreek in terme van die beginsels ter sprake (om konflik op ‘n ordelike en prosesmatige wyse te hanteer waar die aangeklaagde genoegsame geleentheid sal kry om sy saak te stel), die tipes misdrywe wat begaan kan word (hoofsaaklik oortredings gemik op die ondermyning van die GPF se integriteit) asook die strawwe wat dienooreenkomstig opgelê kan word. Aangesien hierdie so kortliks beskrywe is laat dit veel te wense oor. Daarna word die dissiplinere proses beskrywe en daar is twee sake van belang, naamlik dat ‘n bepaalde liggaam, met verpligte verteenwoordiging van die Area Raad en Provinsie, die dissiplinere aksies moet aanhoor en dat dissiplinere aksies hierargies gepromofeer moet  word indien nodig.

Die konstitusie eindig met ‘n beskrywing van die proses wat gevolg moet word wanneer  die konstitusie moet verander of wanneer die GPF ontbind moet word.

‘n Klompie duidelike leemtes bestaan in die konstitusie en dit is reeds in verskeie skrywes aand ie GPF en die SAPD uitgewys sedert 23 Oktober 2011. Van die leemtes word kortliks hieronder uitgewys.

Lidmaatskap is nie duidelik omskrywe nie. Sal ‘n individuele lid dieselfde stemreg hê as die verteenwoordiger van ‘n organisasie, of selfs ‘n groepering van organisasies? Kan ‘n persoon beide as individuele lid en as deel van ‘n organisasie deelneem aan GPF stemmery? (Dus effektief twee keer verteenwoordig word?). Word buuurtwagte beskou as organisasies of institute?

Registrasie van lede word nie beskrywe of vereis nie. Net organisasies moet registreer. Daar is derhalwe nie sprake van ‘n ordelike ledelys wat instand gehou word nie. Dit het baie implikasies, byvoorbeeld dat die hele konsep van  genoegsame verteenwoordiging by vergaderings en kworums  sinneloos word. Die huidige praktyk dat ‘almal wat die afgelope drie vergaderings bygewoon het outomaties lede is’ is onwerkbaar en maak die vergaderings oop vir grootskaalse manipulasie. (Daar word ironies genoeg gesê dat bestuurslede ‘registered members’ moet wees!) Selfs die vereiste dat die konstitusie deur ‘n 70% meerderheid van geregistreerde lede verander kan word, word sinneloos as die lidmaatskap basis nie gedefinieer is nie!!

Die samestelling van die bestuurskomittee is onduidelik. As die konstitusie noukeurig gelees word kan gesien word dat die bestuurskomittee kan bestaan uit enige getal van 5 tot 23 lede! Baie algemene vergaderings word nie eers deur 23 mense bygewoon nie. Dis ook nie duidelik of al die ‘bestuurslede’ (waarvan baie ex-officio daar is) werklike stemming op bestuursvlak het of moet hê nie.

Die posisie van die sektor sub-forums is nog meer onduidelik. Moet die sub-forums aparte konstitusies en aparte ledelyste hê? Word dissiplinêre aksie verantwoordelikhede afgedelegeer na sub-forums? Wat is die verhouding tussen die GPF en die sub-forums en hoe werk hulle saam? Hoe word verseker dat daar nie oorvleueling is nie?

Twee ander spesifieke en belangrike tekortkominge is die volgende:

  • Die konstitusie gee geen aandag aan buurtwagte nie. Buurtwagte speel ‘n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid, anders as ander gemeenskapsorganisasies. Derhalwe verdien sake soos die rol, funksies, affiliasie van en samewerking met buurtwagte spesifieke aandag.

  • Die bevelsbevoegdhede van GPF ampsdraers word nie duidelik genoeg uitgespel nie, hoewel die konstitusie die GPF as ‘n vrywilliger organisasie tipeer. Dit kan maklik lei tot die situasie waar verkose leiers hulleself sien as ‘aangestelde boeregeneraals’ wat outokraties bevel voer oor die gemeenskap in plaas daarvan dat hulle as dienaars van die gemeenskap optree.

Die konsep van gemeenskapspolisiëring is ‘n uitstekende een en die betrokkenheid van die gemeenskap by hulle eie veiligheid is baie positief aangesien mens graag sou wou sien dat ‘n vertrouensverhouding tussen die polisie en die publiek bestaan. Die polisie erken  dikwels ruiterlik dat hulle taak onmoontlik sal wees om uit te voer sonder die welwillendheid van die publiek nie. Juis in ‘n plurale samelewing soos ons s’n is dit nodig om op alle moontlike wyses mense bymekaar te bring en samewerking te bevorder. Derhalwe is ‘n dokument soos ‘n konstitusie, wat deur alle belangehebbers aanvaar word, van die allergrootste belang, aangesien dit die wyses beskrywe waarop mense ooreenkom om saam te werk.

---000---

KPJ Nel

2015-01-03


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer