Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-07 Views:  1717
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Die Wereld Van Ons Tyd – Waarvandaan?

Die wereld van ons tyd – waarvandaan?

Ons begrip van die wêreld rondom ons het ‘n groot impak op die wyse waarop ons ons lewens inrig.

 Almal word groot binne ‘n bepaalde raamwerk en ‘n mens neig om dit te verabsoluteer, of te aanvaar as die enigste aanvaarbare of korrekte lewensnorm.  Dit is die wese van konserwatisme.  Ywerige studie, moderne media soos die TV en reise na ander gemeenskappe, stel 'n mens bloot aan ander mense en hulle waardestelsels, en dit lei mens tot die besef dat die wêreld groter is as net jou eie kring. Dit bring onbewustelik die herevaluering van 'n mens eie raamwerk tot gevolg.  Op sigself is dit ‘n goeie ding, aangesien dit ‘n mens bring tot ‘n groter begrip van die werklikhede in die wêreld, in teenstelling met ideologiese posisies wat mens baiekeer onbewustelik inneem.

Die wêreld van ons tyd is die produk van dramatiese gebeure wat die afgelope twee eeue plaasgevind het.  Hoewel hierdie gebeurtenisse lank reeds verby is, het baie daarvan duidelike indrukke gelaat op die nasionale geheues van volke van die wêreld, en is ook in sommige gevalle vasgevang in strukture wat vandag nog bestaan en ‘n invloed uitoefen op wêreldgebeure, soos byvoorbeeld die Verenigde Nasies Organisasie.

Hoewel in vroeër eeue vorige beskawings, soos byvoorbeeld die Chinese, die Japannese, die Ottoman Turke ens., baie prominent was, is die laaste twee eeue gedomineer deur die opkoms van Europa en die Westerse beskawing.  Ten spyte van  ontsettend baie konflikte en stryd kruis en dwars deur Europa, het die kontinent ontwikkel tot ‘n reus terwyl ander wêrelddele byna staties was in vergelyking daarmee.  Die stryd was in baie gevalle juis die insentief tot verdere ontwikkeling, hoewel dit ook grootskaalse ellende en armoede voersoorsak het.  In hierdie konflikte was veral die stryd tussen Spanje, Engeland, Frankryk en later Duitsland van groot belang.  Dit het onder andere die konsep van Nasionalisme gevestig uit die vroeër feudale stelsels.  Die Westfalia-Ooreenkoms het in 1648 byvoorbeeld beslag gegee aan die konsep van die nasie-staat soos ons dit vandag ken.

Die groot ontwikkelinge in Europa het aanleiding gegee tot die verskynsel van Kolonialisme, waar nasies hul invloedsgebiede uitgebrei het na ander, onontginde kontinente.  Die belangrikste kolonie was natuurlik dié in Noord Amerika.  Derduisende mense het, veral uit Engeland, daarheen geïmmigreer.  Uiteindelik het die kolonie na ‘n rebellie in die laat 1700’s ontwikkel tot ‘n selfstandige staat, die VSA, wat vandag die magtigste land ter wêreld is.  Afrika is gekolonialiseer deur veral Engeland, Frankryk, Portugal, België en Duitsland en ‘n belangrike konvensie het plaasgevind in Berlyn in 1884 waarin die grense van Afrika State vasgelê is, sonder dat mense uit Afrika geraadpleeg is.  Dit het vandag nog in impak op Afrika-politiek.

Die eerste Wêreldoorlog was ‘n skok vir Europa wat die twintigste eeu met optimisme tegemoet gegaan het.  Die nuwe tegnologieë het die oorlog ongelooflik destruktief gemaak en het miljoene mense se lewens gekos.  Nuwe toerusting soos nuwe gewere, tenks, vliegtuie en primitiewe chemiese wapens is vir die eerste keer gebruik en uiteindelik het die oorlog vasgeval in ‘n onbeweegbare loopgraafoorlog. Na die vredesluiting  het die mense van die wêreld gepoog om ‘n meganisme daar te stel waardeur sulke toekomstige groot oorloë vermy kon word.  Dit het gelei tot die stigting van die Volkebond (League of Nations), maar die VSA was nie deel daarvan nie. Hoewel hierdie organisasie sekere fondamente gelê het vir internasionale samewerking, was dit nie suksesvol nie en het uiteindelik ontbind.

Die tweede Wêreldoorlog was nog ‘n groter skok vir Europa en dit het die vorige oorlog in elke opsig oorskadu.  Uiteindelik is partye vêr buite Europa, soos byvoorbeeld Japan en die VSA betrek by die stryd.  Die enkel grootste gebeure was seker die twee kernbomme wat die VSA op Hirosjima en Nagasaki gegooi het in 1945.  Dit het skokgolwe deur die gemoed van al die volke op die wêreld gestuur en het die wêreldtoneel ingrypend verander.

Na die tweede wêreldoorlog het die wêreld snel ontwikkel tot ‘n bi-polêre sisteem waar daar twee dominante magte was – die VSA en die Verenigde Sosialistiese Republike van die Sowjet Unie.  Die res van die wêreld het hulself min of meer gerangskik in twee kampe agter hierdie twee reuse.  Dit het aanleiding gegee tot die sogenaamde koue oorlog, waar stryd gevoer is op indirekte wyse, aangesien die uitbreek van ‘n kernoorlog so ontsettend sou wees dat dit die hele beskawing sou kon uitwis, en dus ten alle koste vermy moes word.   Die filosofie was bekend as MAD – Mutual Assured Destruction, waarin geen een van die groot moonthede wat ‘n kernoorlog sou begin, die vernietigende teenaanval sou kon vryspring nie, en dus sou dit dwaas wees vir enigiemand om 'n kernoorlog te begin.

In die tydperk het die ontwikkeling van die Verenigde Nasies Organisasie plaasgevind, met die doel (soos die Volkebond) om konflikte te vermy en vrede te verseker.  Die VN het baie organe waardeur hulle wêreldwye invloed uitoefen, maar die belangrikste twee is die Algemene Vergadering en die Veiligheidsraad.  Die Veiligheidsraad oefen die grootste invloed uit en bestaan uit 10 lede waarvan 5 groot moondhede (VSA, Brittanje, Frankryk, Rusland, China) permanente status en vetoreg het.  Die aktiwiteite van die VN word sterk gedra deur die groot bydrae van die Vernigde State (sowat 25%) en in baie kringe word die VN gesien as ‘n lakei van die sterk Westerse moondhede.  Hoewel die VN in baie dinge betrokke geraak het, kon hulle baie van die aksies ongelukkig nie  suksesvol deurvoer nie.

Die volgende dramatiese verandering wat plaasgevind het op die wêreldtoneel was die skouspelagtige ineenstorting van die Rusiesse magsblok.  Gebasseer op onwerkbare Marxistiese en Kommunistiese filosofieë kon die state nie ekonomies genoegsaam ontwikkel nie, en het uiteindelik in duie gestort.  Dit het gelei tot ‘n onstabiele internasionale omgewing aangesien daar nou nie meer ‘n magsbelans was nie.  Die VSA het as die enigste, onbetwisbare “Super Power” oorgebly en selfs tot “Hyper Power”ontwikkel. Dit het aanleiding gegee dat baie streekskonflikte, wat vir dekades lank sluimerend was, nou te voorskyn gekom en ontbrand het. Dit bring ons by die wêreld van ons tyd.

Belangrike wêreldtendense beïnvloed die wêreld se toekoms. Die belangrikste hiervan is die snelle bevolkingstoename van die wêreld.  Die wêreldgetalle het in 1999 die 6 miljard vlak verbygesteek.  Die grootste toename in bevolking vind ongelukkig plaas in die dele van die wêreld waar die bronne en lewensmiddele die skaarste is, naamlik Afrika en Asië. Hierdie tendens voospel grootskaalse gebrek, hongersnood, siektes en konflik in die bepaalde deel van die wêreld – veral as dit gepaard gaan met natuurrampe soos droogtes, vloede ens. In teenstelling daarmee het die ontwikkelde, Westerse lande (en Japan) reeds vêr gevorder om hul bevolkingsgroei te stabiliseer.

Die volgende is die tendens van globalisering, gedrywe veral deur dramatiese tegnologiese ontwikkelinge soos byvoorbeeld die Internet.  Elektroniese netwerke laat belangrike grense verdwyn.  Massiewe hoeveelhede kapitaal word 24 uur per dag verplaas met elektroniese netwerke en die begrip van e-handel, is besig om die wese van die handelswêreld te verander.  Die vrye vloei van inligting wêreldwyd verander die denke van die wêreld se mense op ‘n ontsaglike skaal.  Dit sal aanleiding gee tot ‘n polarisering in die wêreld – die wat saam met globalisering ontwikkel en dié wat agterbly en ‘n vergeefse stryd daarteen voer.  Een van die uitkomste van globalisering kan natuurlik wees die daarstelling van een wêreldregering.  Dit is ‘n erkende feit dat die wêreld reeds verdeel is in ‘n welvarende Noorde en ‘n arm Suide – die sogenaamd Noord-Suid probleem.  Globalisering en die vinnige ontwikkeling wat dit te weeg kan bring in die ontwikkelde lande, kan hierdie gaping verder vergroot.

In terme van wêreld magstrukture is daar twee  tendense wat ‘n rol kan speel.  Die een is die steeds groter wordende rol wat internasionale organisasies soos byvoorbeeld die Verenigde Nasies, Wêreld Gesondheids Organisasie, Wêreld Arbeids Organisasie en Streeksorganisies soos die Noord Atlantiese Verdrags Organisasie, die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en andere sal speel.  In baie lande van die wêreld is die begrip van nasionale soeweriniteit besig om te erodeer, en dit laat ruimte vir die optrede van internasionale- en streeksorganisasies om in te gryp  ten tye van konflikte , wat tevore as inmenging in huishoudelike sake bestempel sou word. Die ander tendens is die drang na groter liberalisering – die realisering van vryheid vir kleiner groepe in die wêreld – byvoorbeeld gebaseer op etnisiteit of godsdiens.  Dit, gesien teen die agtergrond van outokratiese leiers, wat krampagtig aan hul mag vasklou, en nie skroom om geweld te gebruik in die proses nie, beteken voortgesette konflik in die toekoms.

Nog 'n  tendens is die toename van internasionale kriminaliteit/misdaad.  Die verbeterde infrastruktuur en kommunikasie-tegnologie maak samewerking tussen internasionale misdaadsindikate natuurlik makliker.  Daarmee saam is daar by baie state in die ontwikkelende wêreld ‘n onvermoë om wet en orde toe te pas.  Dwelms, diamante, goud, perlemoen en talle waardevolle material word maklik tussen dié lande gesmokkel.  Dit gaan gepaard met magskonglomerate  soos byvoorbeeld die dwelmbaronne van Colombia en die Mafia in Italië, Rusland en die VSA.  Kriminele aktiwiteit, soos hierbo beskrywe, noodsaak die vloei van groot hoeveelhede geld wat maklik aandag kan trek.  Om dit te vermy het die konsep van  geldwassery (“money-laundering”) ontstaan waar in “vuil-geld” (verkry deur onwettige aksies) deur beleggings, casino’s, beurs-aktiwiteite, besighede, in die amptelike geldstelsels van die wêreld ingebring word, sodat die oorspronklike bron daarvan nie nagespoor kan word nie.

Mense het nog altyd gewonder oor die toekoms. Maar wat sal mens maak as jy weet? Is dit Martin Luther wat gesê het: ‘As ek weet die Here kom more – dan plant ek vandag ‘n boom!..’?

---000---KPJ Nel

2015-01-06

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer