Bejaarde op plaas by Brits deur gewapende rowers aangeval en beroof

‘n Bejaarde boer is Dinsdagmiddag deur twee gewapende rowers in sy huis op ‘n wildsplaas naby Brits oorval, vasgebind en beroof.

Die man, in sy sewentigs, het kort na 17:00 by die huis gekom waar die rowers hom reeds binne die huis ingewag het.
“Die twee rowers, gewapen met ‘n vuurwapen, het die boer oorrompel, vasgebind en geld en wapens geëis. Hulle het die huis geplunder en drie gewere, ‘n bietjie kontant, televisiestel, klere en ander items geroof,” het Chris Degenaar van die Krokodil gemeenskapbeskermingsgroep (KGBG) gesê.
“Terwyl die rowers, vermoedelik Zimbabweërs, met die boer besig was, het een se selfoon glo gelui en die boer het gehoor hoe hy vir die ander persoon vra “Where are you now?. Die vermoede is dat iemand met ‘n voertuig op pad was. Hulle het kort hierna met hulle buit en die boer se selfoon gevlug.”
Die boer kon sowat twee ure later daarin slaag om homself los te wikkel en het na ‘n buurplaas gery vir hulp. KGBG-lede en spoorsnyers, sowel as die polisie was kort daarna op die toneel.
“Ons spoorsnyers het die rowers se spore tot by die Greens-plakkerskamp gevolg waar die honde dit verloor het.”
“Die KGBG wil graag die polisie en die spoorsnyers bedank wat tot in die oggendure gewerk het om die verdagtes op te spoor.”
Die polisie soek na die verdagtes en die ondersoek duur voort.

https://kormorant.co.za/52822/bejaarde-op-plaas-brits-deur-gewapende-rowers-aangeval-en-beroof/