Bekende Hartbeespoort-skrywer bied nou skryfskole aan

Die bekende Hartbeespoort-skrywer, Carla van der Spuy, het nou haar skryftalent uitgebrei en sy bied heerlike, informele skryfskole hier in Hartbeespoort aan.

Carla van der Spuy

“Die drie gewildste drome onder mense is seker om ‘n CD te maak, ‘n boek te skryf of gewig te verloor. En glo my, dis die maklikste om gewig te verloor!” lag Carla wat pas haar sewende boek agter die rug het.

“Ek is deur die jare al baie gevra om mense te help met opstelle, praatjies en om hul manuskripte te lees en het besef dat daar ‘n mark daarvoor is – veral onder kreatiewe mense. En nou bied ek elke maand op ‘n Saterdag informele slypskole vir klein groepies belangstellendes op my voorstoep aan. Daar is soveel mense wat oor rou skryftalent beskik, maar nie weet hoe om dit aan te wend nie en waaraan geslyp moet word. Met die klein groepie kan elkeen individuele aandag kry,” sê sy.

“Daar is baie aanlynkursusse, ek was self daarby betrokke, maar dan is daar nie persoonlike interaksie nie. Van die kursusse is ook duur. Ek het besluit om myne bekostigbaar en ‘n bietjie anders te maak. Nadat almal kursusmateriaal en skryfwenke per e-pos ontvang het, skryf hulle hul stories en e-pos dit vir my. waarna ek dit deurgaan. Tydens die skryf- of slypskool, sit ons heerlik op my stoep en gesels oor hul werk, hoe die uitgewersbedryf werk, watter genres gewild is en hoekom en hoe moeilik dit is om iets gepubliseer te kry. Die kursusgangers het dikwels baie vrae. Mens maak beslis nie geld uit skryf nie. Inteendeel. Skryf moet in jou bloed wees. Daarom moet jy om die regte redes skryf, soos om jou talente uit te leef.”

Dié bekroonde skrywer en vryskutjoernalis, het reeds ses boeke gepubliseer, naamlik Platsakwenke, Mens of Monster –die psige van ‘n misdadiger, Plaasmoorde – slagoffers vertel self, Bloed op haar hande – vroue agter tralies, Mishandel, Misbruik Misken – Joey Haarhoff was my ma en Sielsiek saam met die forensiese sielkundige Dr Henk Swanepoel. Vyf van hierdie boeke is in Engels vertaal en twee was topverkopers en het weke lank op die Nielsenlys vir nie-fiksieboeke verskyn.

Carla se sewende boek, Liefde agter tralies, sal in Junie op die rakke wees. Dit gaan onder meer oor ‘n bruid in boeie wat met haar man, ook ‘n gevangene, in die tronk getroud is, en oor Riette Pretorius, die sogenaamde Boeremagbruid wie se man 25 jaar effektiewe tronkstraf vir hoogverraad gekry het.

Hierdie boek het reeds soveel belangstelling uitgelok dat Carla en Riette onlangs op Rian van Heerden se DStv se program, Skelmpie/Liefde sonder grense verskyn, het. “Natuurlik het die hele dorp my man, Romano (die bekende en geliefde voorsitter van Hartbeespoort se gemeenskapspolisiëringsforum) in die gehoor raakgesien. Die gemeenskap het meer oor hom op televisie gepraat as oor my,” lag sy.

Die eerste slypskool het verlede Saterdag plaasgevind en was ‘n groot sukses. “Ons kuier lekker oor muffins, tuisgemaakte pasta en wyn,” spot sy.

“Die kursusgangers het uiteenlopende beroepe soos sielkundige, ‘n gewese prokureur en staatsaanklaer en ‘n rocksanger. Onder diegene wat die volgende slypskool op 25 Mei gaan bywoon is ‘n gewese polisiewoordvoerder, ‘n lektrise met ‘n doktorsgraad in musiek en ‘n verpleegsuster wat as versorger na Alzheimerlyers omsien.

“Die kursusgangers het na die eerste slypskool op Facebook vertel dat hulle baie geleer het, gedagtes uitgeruil het en lekker gekuier het. Een is eers om 20:00 die aand huis toe!”

Watter raad het sy vir voornemende skrywers? “Skryf kort sinne en moenie “windgat” skryf of probeer om jou lesers te beÏndruk met hoge letterkunde nie. Laat onnodige byvoeglike naamwoorde uit en vertel net eenvoudig die storie soos vir jou beste vriendin. Daar bestaan nie werklik iets soos inspirasie nie. Al wat bestaan is die harde werklikheid van rekeninge betaal. Skryf toeganklik en pak onderwerpe aan wat ander vermy.”
Kontak Carla by 082 895 3200.

https://kormorant.co.za/50076/bekende-hartbeespoort-skrywer-bied-nou-skryfskole-aan/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *