Bekende inwoner gedreig met die dood tydens gewapende huisroof

“Moenie iets doen nie of ek skiet jou,” was ‘n gewapende rowers se woorde toe hy Hartbeespoort se bekende fietsryer, Andries Hills (35), vroeg Dinsdagoggend in die bed oorval het.

Die rower het ongeveer 04:30 deur ‘n venter ingebreek na hy die sekuriteitstelsel buite omseil het. Andries het steeds geslaap. “Ek het wakker geword met ‘n pistool teen die kop en die man wat sê ek moet niks doen nie anders skiet hy. En toe haal hy die pistool oor,” het ‘n geskokte Andries kort na die voorval aan Kormorant vertel.

“Hy het vir geld gevra. Ek het gesê ek het niks, maar het vir hom die bietjie geld gewys wat die huiseienaar gelos het.” Die rower het Andries se hande en voete vasgebind en wou iets in sy mond druk. “Ek het gevra hy moet asseblief nie iets in my mond druk nie en toe sê hy hy sal nie, maar as ek iets sê skiet hy my. Hy het die pistool teen my kop vasgedruk en ek het gesê ek sal stilbly.”

Die rower het Andries op die bed in die slaapkamer gelos en die huis begin plunder. “Hy het kaste uitgekeer en juwele en ‘n klein kluis, sowel as die televisiestel, skootrekenaar en my selfoon gevat en deur die gebreekte venster na buite gedra. Hy het kort-kort op sy horlosie gekyk en dan deur die venster na buite waar ‘n motor voor die huis geparkeer was. Hy het my klere en my sak gegryp en ek het gevra dat hy net my medikasie los. Hy het dit uitgehaal en toe vir my gesê ek moet nou verder slaap. Ek het vir hom gevra hoe kan ek slaap as my voete en hande vasgebind is. Hy is daarna weg.

Andries kon daarin slaag om die paniekknoppie met sy mond by te kom en het na die gebreekte venster gekruip om om hulp te roep. “Die sekuriteitsdienste was vinnig hier en ek het gevra hulle moet deur die venster klim en my los maak. My voete was baie styf vasgebind en dit het begin pyn.”

Die polisie was kort daarna op die toneel. Die oopgebreekte kluis en persoonlike dokumente is later Dinsdagoggend naby die huis gevind.
Die Hartbeespoort polisie ondersoek die saak.

https://kormorant.co.za/58071/bekende-inwoner-gedreig-met-die-dood-tydens-gewapende-huisroof/