Drie gevang wat vrou se lyk uit kar gooi

Drie mans, wat Donderdagaand ‘n vermoorde vrou se lyk naby Brits uit die kar gegooi en weggejaag het, is na ‘n wilde jaagtog, deur gemeenskapslede en die polisie van die pad gedwing en in hegtenis geneem.

Drie mans wat Donderdagaand ‘n vermoorde vrou se lyk naby Brits uit die kar gegooi en weggejaag het, is na ‘n wilde jaagtog, deur gemeenskapslede en die polisie van die pad gedwing en in hegtenis geneem.

“‘n Plaaswerker op ‘n plaas in Sanddrift het ongeveer 21:00 gesien hoe drie mans die vrou se liggaam langs ‘n spruit uit ‘n wit Volkswagen Golf gooi en wegry. Hy het die boer in kennis gestel wat die Krokodil Gemeenskapsbeskermingsgroep (KGBG) gekontak het,” het Chris Degenaar van die KGBG aan Kormorant gesê.
“Toevallig was ons besig met ‘n operasie in die omgewing en kort tevore het ‘n wit Volkswagen Golf naby ons skielik omgedraai en in die teenoorgestelde rigting weggejaag. Ek het besef dit is moontlik dieselfde motor en het lede van die KGBG ontplooi om die motor te soek. Ons het die polisie in kennis gestel. Ons is na die toneel waar die liggaam afgegooi is en het op die liggaam van ‘n vrou, vermoedelik in haar 30s afgekom. Haar kop was vermorsel,” het Degenaar gesê.

Die verdagte motor is naby Brits opgemerk en ‘n wilde jaagtog deur Brits se strate het gevolg. Die polisie en KGBG-lede het die voertuig gejaag tot naby die N4 tussen Brits en Hartbeespoort waar dit van die pad gedwing is. Die drie mans in die Volkswagen Golf met ‘n Kaapse registrasienommer, is op die toneel in hegtenis geneem.

“Na hulle gevang is, het die polisie vasgestel dat die drie deur die Hartbeespoort polisie gesoek word vir hul beweerde betrokkenheid by ‘n dwelmsindikaat in Hartbeespoort,” het Romano van der Spuy, voorsitter van die Hartbeespoort gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gesê. “Die GPF het die afgelope week inligting ontvang van ‘n beweerde dwelmnes in Hartbeespoort en die inligting aan die Hartbeespoort polisie deurgegee. Polisielede het Woensdag op ‘n huis in Ifafi in Hartbeespoort, waar die drie mans gewoon het, toegeslaan. Die drie mans het gevlug, maar die polisie het een van hul makkers in hegtenis geneem en op dwelms in die huis beslag gelê. Die polisie was op soek na die drie toe hulle Donderdagaand vir die moord van die vrou gevang is. Die vermoede bestaan dat hulle moontlik die vrou langs die Thabazimbi-pad beroof en vermoor het voor hulle haar liggaam weggooi het.”

Volgens Van der Spuy word vermoed dat die drie ook by ander rowe en verkragtings betrokke is. Die ondersoek duur voort en die drie mans sal volgende week op aanklagte van moord en roof in die Brits-landdroshof verskyn.

https://kormorant.co.za/52974/drie-gevang-wat-vrou-se-lyk-uit-kar-gooi/