Inwoners vra hulp om Magaliesberg teen onwettige houtkappers te beskerm

Hartbeespoort-inwoners het nou besluit om self die beskermde Magaliesberg teen onwettige houtkappers en gepaardgaande vernietiging te beskerm deur toegangsroetes vir die oortredes ontoeganklik te maak.

Buiten die bome wat daagliks afgekap word, word bome nou ook vooraf vergiftig om die houtkappers se taak te vergemaklik. Ten spyte van versoeke deur Kormorant en inwoners die afgelope twee jaar, is daar geen samewerking van die bosbou departement om dié stroping in die Magaliesberg Biosfeer te stop nie. Inwoners, wat vir Hartbeespoort se natuur omgee, sal nou self moet inspring and help om dit te bewaar.

“As dit so aangaan, het ons binnekort geen bome teen die berg oor nie. As inwoners teen die berg opkyk, kan hulle duidelik die groot geel areas sien waar bome nou vergiftig word. Dié bome is reeds dood. Trokke vol hout word daagliks by die Silkaatsnek-toegangsroete opgemerk. Ons wil verhoed dat die houtkappers die toegangroetes kan gebruik,” sê William Atkinson, bestuurder by Villa Paradiso.

Inwoners word versoek om by te dra tot ‘n fonds om groot masjienerie te huur om toegang vir houtkappers se trokke en voertuie te versper. Villa Paradiso het reeds die fonds met ‘n bydrae begin. Ander besighede word ook genooi om die projek te steun.

“As ons nie nou dringend iets aan die vernietiging doen nie, is dit te laat om die natuur op die berg te red.”
Kontak William by 076 856 3083 of Daleen by Kormorant by 012 253 0948 om die projek te steun en vir meer inligting. Alle inwoners word aangemoedig om te help om ons natuur te red.

https://kormorant.co.za/49662/inwoners-vra-hulp-om-magaliesberg-teen-onwettige-houtkappers-te-beskerm/

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *