Rowers skiet op motoris by N4 naby Brits

‘n Inwoner van Bokfontein naby Brits wat Dinsdagoggend vroeg ‘n gestrande motoris naby die gevaarlike N4/R512-padwerke wou help, moes vlug toe gewapende rowers op hom losgebrand het.

Pieter Hanekom was omstreeks 02:00 op pad werk toe, toe hy ‘n motor langs die pad op die R512/N4 afrit opmerk. “Die motor se deure het oopgestaan en items het buite die kar gelê. Ek het na die motor gery om ondersoek in te stel en terselfdertyd het ‘n sekuriteitsdiens-voertuig opgedaag. Klippe was oor die pad gepak en die motor het duidelik die klippe getref en is tot stilstand gedwing. Daar was geen teken van die mense wat in die motor was nie. Ek het die polisie gebel en die volgende oomblik toe word skote uit die bos op my afgevuur. Ek het weggejaag en ‘n paar honderd meter verder naby die ou Rustenburg-pad gestop om vir die polisie te wag. Toe ek stop, is nog skote daar op my afgevuur. Ek het weggery. Dit is duidelik dat die rowers op verkillende plekke vir motoriste gewag het.”
Die polisie en sekuiriteitsdienste was kort daarna op die toneel en daar is later vasgestel dat die insittendes van die motor deur ‘n sekuriteitsbeampte in die nabygeleë bosse, waar hulle weggekruip het, gevind is .
“Volgens die polisie het hulle oor die klippe gery en hul motor is in die proses beskadig. Hulle is gedwing om ‘n ent verder te stop. Drie swaar gewapende rowers het hulle oorval en beroof. Hulle kon glo daarin slaag om te vlug en in die bosse te skuil,” het Pieter gesê.
Dit is die vierde voorval in een week. Drie mense is verlede week op dieselfde manier hier beroof sedert ‘n gedeelte van die pad gesluit is vir padwerke op die N4. Rowers versper die pad met rotse en klippe en dwing motoriste om te stop.
Die polisie het ‘n dringende waarskuwing aan motoriste gerig om bewus te wees van die gevare.

https://kormorant.co.za/52768/rowers-skiet-op-motoris-n4-naby-brits/