Vrou (48) met koevoet oor kop geslaan tydens plaasaanval by Brits

‘n Vrou (48) van De Kroon naby Brits is met die vuis en ‘n koevoet oor die kop geslaan terwyl sy Woensdagoggend verbete teen vier plaasaanvallers geveg het.

Louisa du Toit was ongeveer 06:30 in haar slaapkamer op hul plaas toe sy geluide op die stoep hoor en die honde begin blaf. Haar man, Hennie, het pas vertrek om die kinders skool toe te vat. “Toe sy opstaan om te gaan kyk wat aangaan, was die vier of vyf aanvallers reeds in die gang na hulle die veiligheidshek oopgebreek het. Hulle het haar gegryp en grond toe probeer dwing. Louisa het terug baklei en hulle het haar bene onder haar probeer uitskop. Sy is met die vuis op die oog geslaan en een het haar met ‘n koevoet oor die kop geslaan,” het Hennie gesê.

Ten spyte van die feit dat die houe haar benewel het, kon Louisa wonderbaarlik daarin slaag om van die aanvallers weg te kom en by die oopgebreekte deur uit te vlug.
“Sy het gehardloop en moes oor ‘n twee meter heining klim om hulp te gaan soek.”
Sy het werkers op die pad naby ‘n naburige plaas teëgekom en gevra waar sy hulp kon kry. Hulle het haar na die bure geneem wat hulp ontbied het.
Ons het die polisie probeer bel, maar die telefone is nie beantwoord nie. ‘n Buurman is self na Brits polisie om hulp te ontbied. Hy is meegedeel dat hulle besig was,” het ‘n buurman aan Kormorant gesê. Monitornet veiligheidsdienste se hulp is ingeroep and het vinnig reageer. Laatoggend was die polisie nog steeds nie op die toneel nie. Inwoners het self die aanvallers, wat intussen die Du toits se huis geplunder het, se voetspore tot by ‘n laagwaterbruggie naby Hernic-myn gevolg waar hulle vermoedelik deur ‘n voertuig opgelaai is. Van die Du Toit-gesin se persoonlike dokumente is hier opgetel.
Louisa is in die Brits Mediclinic in ‘n bestendige toestand.

https://kormorant.co.za/58115/vrou-48-met-koevoet-oor-kop-geslaan-tydens-plaasaanval-brits/