Vrou (63) twee keer in gewapende roof by Brits geskiet

‘n Vrou is twee keer geskiet toe gewapende rowers haar en haar man Maandagmiddag by hul groentepadstal by Brits oorval het.

Marieta (63) en Chris (64) van Wyk was by hul padstal net buite Brits waar hul groente verkoop toe twee gewapende mans kort voor 15:00 opgedaag het.

“My pa was in die padstal en my ma in die aangrensende badkamer toe ‘n man, gewapen met ‘n rewolwer, by die padstal inkom en die wapen op my pa rig. My pa het vir hom gevra wat aangaan en toe afgebuk en pepergas uitgehaal en die man in die gesig gespruit. ‘n Worsteling het ontstaan en my pa het geval. My ma het uit die badkamer gekom en terselfdertyd het ‘n tweede man met ‘n vuurwapen ingekom. Hy het skote op my ma afgevuur en haar in albei bene getref,” het Tharina Vogel, die egpaar se dogter gesê.
Die mans het ‘n klein hoeveelheid kontant gegryp en gevlug. Nooddienste was minute later op die toneel en Marieta is per noodhelikopter na die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg gevlieg vir behandeling.
“Gelukkig is albei die koeëls reg deur my ma se bene en geen bene of slagare is beskadig nie. Dit is net deur die genade en beskerming van die Here dat my ouers nie erger beseer is nie. Dinge kon soveel anders uitgedraai het.”

https://kormorant.co.za/61302/vrou-63-twee-keer-gewapende-roof-brits-geskiet/