Werklose man besorg inwoner se beursie terug

‘n Werklose man van Hartbeespoort het dié week ‘n inwoner se hart baie bly gemaak toe hy sy beursie, wat hy verloor het, opgetel en aan hom terugbesorg het.

Louis Janse van Rensburg het Maandag vermoedelik sy beursie agter op sy bakkie laat val terwyl hy goedere opgelaai het. Hy het kort daarna ontdek sy beursie met sy bankkaart, ID-kaart, bestuurderslisensie en ‘n paar Rand is weg.
Maandagmiddag het Thomas Mbewe saam met ‘n vriend in Jan Smutslaan gery toe hulle die beursie in die pad opmerk. “Toe ek die ID-kaart en bestuurderslisensie sien, het ek geweet iemand se lewe is nou baie moeilik,” vertel Thomas. “Daardie twee goed is mos jou lewe. Ek het geweet dit gaan baie moeilik wees om die bank te nader en toe besluit ons om dit na Kormorant te bring. Hulle sal weet hoe om die persoon op te spoor,” sê Thomas wat onlangs sy werk verloor het toe die internasionale maatskappy waarvoor hy gewerk het, hul deure in Suid-Afrika toegemaak het.
Danksy een van Louis se lojaliteitskaarte, het ‘n winkelgroep in Hartbeespoort gehelp om hom op te spoor.
“Dit is ongelooflik. Ek is skoon hoendervleis. Ek het nooit gedink iemand sal dit aan my terugbesorg nie. Baie dankie, Thomas!”
“Nee, moenie vir my dankie sê nie. Sê vir die Here dankie dat hy dit in die regte hande laat beland het,” was Thomas se antwoord.

https://kormorant.co.za/53351/werklose-man-besorg-inwoner-se-beursie-terug/